Kgwadi betoon medelye ná Pukkie sterf

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit, het Sondag in ʼn verklaring gesê Xavier Klein, ʼn eerstejaarstudent op die Potchefstroom-kampus (Puk), het verdrink.

Kgwadi het gesê hy neem met spyt kennis van die afsterwe van Xavier.

Maroela Media het vroeër berig Xavier en sy twee vriende het by die kampusswembad gaan swem. Hy het ná ʼn paar lengtes gesê hy voel nie lekker nie, en het op die rand van die swembad gaan sit. Ná ʼn ruk het hy weer begin swem, maar in die moeilikheid geraak. Sy vriende en waterpolospelers het hom te hulp gesnel en dadelik mond-tot-mondasemhaling begin toepas. Hy is na die MediClinic geneem waar hy gisteraand omstreeks 23:00 in die hoësorgeenheid oorlede is.

“Dit is die vyfde student van ons universiteit wat die afgelope vier weke in onvoorsiene omstandighede sterf,” het Kgwadi gesê. “Drie damestudente is vroeër in ʼn motorongeluk dood en ʼn damestudent het gesterf weens breinvliesontsteking, en dit is nou gevolg deur Xavier se verdrinking. Elke afsterwe is ʼn tragiese voorval. Ons land se toekoms lê in ons jong mense – veral sulke talentvolle persone. My medelye aan sy ouers, familie en vriende. Hou hulle asseblief in jul gebede.”

Die 19-jarige Xavier Klein van Groblershoop in die Noord-Kaap, was ʼn eerstejaarstudent in Laureus-manskoshuis. Hy het B.Com Finansiële Rekenmeesterskap studeer. Een van die vriende wat saam met hom geswem het, was sy kamermaat.

Volgens die verklaring wat deur Kgwadi se kantoor uitgereik is, sal die oorsaak van Xavier se dood bekend wees ná ʼn nadoodse ondersoek.

Kgwadi is van voornemens om Xavier se ouers te besoek om persoonlik sy medelye aan hulle oor te dra. Hy het reeds telefonies met sy vriende gepraat wat saam met hom geswem het.

Prof. Fika Janse van Rensburg, rektor van die Potchefstroom-kampus, Chris de Bruyn, huisvader van Laureus-manskoshuis, en die kantoor van die dekaan van studentesake staan die familie by met reis- en verblyfreëlings en berading.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wat-ek-lees ·

En ook dieselfde medelye en besoeke aan die ouers van die ander tragiese voorvalle by die PUK? Sterkte aan die ouers wat so onverwags hul kinders moet afstaan aan die ewige lewe. Tog is dit nie tevergeefs.

MissDemeanor ·

Dit is baie hartseer. ‘n Mense se lewe kan so maklik en skielik tot ‘n einde kom. Dit is nogals sleg dat soveel studente so kort na mekaar oorlede is. Ek is seker die rektor, wat duidelik baie besorg oor sy studente is, het/sal na al die ouers gaan. Dit is seker die moeilikste deel van enige leier se werk. My innige meegevoel aan die familie en vriende van die jong man, asook aan al die ouers wat verlies moet verwerk.

Trixe ·

verdrinking is as jy in die swembad dood is.
regtig het simpatie maar als is verkeerd beskryf.
die persoon is in die hospitaal oorhelde, agv sleg gevoel en uitgehaal uit swembad.

Jakoba ·

Trixie al word jy uit die swembad gehaal en sterf in die hospitaal is dit nog steeds verdrinking. Jy kan uure na jy water in jou longe gekry het m a w verdrink het en bygebring is nog steeds sterf a g v verdrinking

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.