Kgwadi-uitlatings: Solidariteit wil veg vir Afrikaanssprekendes se regte

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Die vakbond Solidariteit gaan ʼn veldtog begin om Afrikaanssprekendes se grondwetlike regte te beskerm ná uitlatings deur prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit, oor transformasie en Afrikaans.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die uitlatings wat Kgwadi tydens sy inhuldiging gemaak het, is strydig met die universiteitsraad se bestaande beleid, en is sonder die mandaat van die raad gemaak. “Dít word vererger deurdat die raad Vrydag net voor sy [Kgwadi] se inhuldiging op Mahikeng vergader het, en die raadslede wat teenwoordig was vir die eerste keer moes hoor dat hy die universiteit onherkenbaar wil transformeer.”

Die uitlatings deur prof. Kgwadi volg op ʼn reeks gebeure verlede week, waartydens die parlementêre portefeuljekomitee en die minister van hoër onderwys die universiteit se taalbeleid en bestuursmodel gekritiseer het.

Volgens Buys skep dit die indruk dat dié gebeure ten doel gehad het om ʼn klimaat te skep vir Kgwadi se uitlatings. “Dit is hierdie politieke steun wat hom waarskynlik die selfvertroue gegee het om sulke sterk beleiduitsprake te maak,” het Buys gesê. “Prof. Kgwadi se gerusstellings dat Afrikaans altyd ʼn plek op die Potchefstroom-kampus sal hê is niksseggend, omdat daar selfs by voormalige Afrikaanse universiteite wat nou Engels en rasgewys totaal getransformeer is, nog steeds enkele Afrikaanse kursusse is.”

Buys het gesê hierdie “taalkrummels” voldoen egter glad nie aan die minimum vereistes vir Afrikaans om as ʼn volwaardige akademiese taal voort te bestaan nie. “Verder sluit die getransformeerde universiteite in die praktyk Afrikaanse studente uit, en het duisende studente uit die stede verby verskeie nabygeleë universiteite gery om in Potchefstroom te kon studeer.”

Volgens Buys is dit onaanvaarbaar dat die minister en Kgwadi op die bevindings van die Kommissie van Ondersoek steun, omdat die universiteitsraad die Wessels-verslag weens die vele gebreke daarin, nie aanvaar het nie. “Die verslag het gevolglik geen regstatus nie, wat beteken dat geen besluite op grond van hierdie gebrekkige verslag geneem kan word nie. Indien dit wel gebeur, sal die besluite hersienbaar deur ʼn geregshof wees.”

Buys het gesê Solidariteit sal later hierdie week vergader om op ʼn aksieplan te besluit om Afrikaanssprekendes se grondwetlike regte op universiteitsopleiding en moedertaalonderrig te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Mariëtte ·

Ek het 2 kinders op die Puk -waar ek ook studeer het.Groot asb veg vir Afrikaans!!

Mariëtte ·

Ek het 2 kinders op die Puk -waar ek ook studeer het.Groot asb veg vir Afrikaans!!

Christina ·

Dankie Beeld! Weens julle najaag van sensasie en totaal uit-verband-gerukte verslaggewing oor die PUK se kultuur, het julle uiteindelik ‘n kernrol gespeel in ‘n totale aanslag op Afrikaans as akademiese taal. Wie dink julle lees Afrikaanse koerante? MENSE WAT ‘N GROOT GENOEG PASSIE VIR AFRIKAANS HET OM IN AFRIKAANS TE WIL STUDEER. Danksy julle kortsigtige beriggewing, gaan julle voordat julle julle oë uitvee, julle laaste geslag lesers se lojaliteit verloor het en nie meer ‘n jonger geslag lesers hê om julle koerante (in watter vorm ookal) te koop nie. Dalk moet julle julle gewig agter Solidariteit se stryd vir Afrikaans as tersiêre onderrigtaal op die PUK begin ingooi…

Alwyn Beetge ·

Solidariteit se benadering is tydig en korrek. Afrikaners is moeg om geboelie te word en moeg om met hoed in die hand te bedel vir n paar krummels van die bewindhebbers se tafel.

Reinette ·

My regte om Afrikaans te mag praat is in die grondwet verskans, my kinders se reg om in hulle moedertaal onderrig te mag ontvang ook.
Die amptelike tale van die Republiek is Sepedi, Suid-Sotho, Tswana, Swati, Venda, Tsonga, Afrikaans, Engels, Ndebele, Xhosa en Zulu. Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad deur nasionale wetgewing ingestel, moet die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die
ontwikkeling en gebruik van alle amptelike tale.
Nerens in die grondwet staan daar dat een taal afgebreek en beswadder moet word om die ander tale op te hef nie. Dit lyk regtig of Min. Nzimande en kie van mening is dat al 11 die tale nie het wat Afrikaans het nie en daarom is hulle daarop geregtig om oorwegend Afrikaanse instellings te verongeluk. Waarom ontwikkel en bevorder hulle nie instellings waar die ander tale ook kan gedy en blom nie (soos wat die Grondwet aanbeveel nie?)

Frikkie ·

Ek verstaan dat engels ten goede vir ons almal is, maar dit is die eerste stap dan kom die kwotas, en siedaar die afrikaans sprekendes is uit en Pukke behoort nie meer aan ons nie.

Amanda Erasmus ·

Raak ontslae van Kgwadi. Hy’s n kwaadstoker wat geen begrip vir Afrikaans of vir die huidige Blanke studente het nie. Hoekom gaan studeer sy aanhangers nie op Mafikeng en Vaaldriehoek wat daar is vir hulle nie. Kgwadi hoort nie op Potch nie en is nie welkom daar nie. Hy kan gerus ander weivelde gaan soek, niemand op Potch het hom nodig nie.

Marcel ·

Gun ons NET een universiteit, of is dit TEveel gevrae??? Julle het reeds RAU volkome transformeer, waar reeds meer as 70% swart is en dan loop dit op die kampus ronddat dit nog nie genoeg getransformeer is nie. Stellenbosch is sterk oppad om te verengels en dan ook getransformeer word. Ek glo UVS en UP is ook redelik getransformeerd. Hoekom moet ALLES in julle oe aan jul standaarde voldoen. Selfs Afrikaanse sepies soos 7de Laan moet nou kwotas in he ens.

GUN ONS NET EEN TERSIERE INRIGTING IN ONS EIE MOEDERTAAL.

nicolette ·

Ja nee Dan moet waai want hy praat uit 2 monde en als in die land kannie en mag nie verander word om net sekere kulture te bevoordeel nie.Afrikaans is net so deel van die land soos die ander tale.Los die pukke net uit en laat die universiteit voort bestaan in n taal wat vir ons kosbaar is.Dan was die verkeerde keuse vir n fantastiese universiteit, hy wil ons taal verwoes en dit is ONAANVAARBAAR.Dan pak jou tassie……..

Cobus Pretorius ·

Skielik het almal vergeet dat die PUK opgerig is om Afrikaanse onderwysers op te lei????Bou nog universiteite vir anderstaliges ,wat dan weer later afgebrand en gevandaliseer kan word,Maar los nou die PUK uit.Hoe ver moet ons nog agteroor buig?Gaan kyk bietjie hoe lyk die Potch Landbou college dan sal almal besef dat ons vandag na onsself moet omsien anders gaan daar absoluut niks oorbly nie

Jacobus Pienaar ·

Ja nee hier op Stellenbosch is oorgegee sonder enige weerstand. Brink en Bothman het gemaak en gepraat nes hul base , die ANC hul beveel het. Ek wens die verset wil op Maties ook oorvat. As n klas 1 persoon het wat nie wil Afrikaans praat , moet alles in Eng gedoen word. Onrevverdig, maar dis mos transformasie, ontafrikanering. Sterkte, jul kan dalk ook reaksie van Maties kry voor dit heeltemaal te laat is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.