Kgwadi wil nie “baba met badwater uitgooi” nie; tog is daar kommer

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU. Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), wil aan die stuur staan van ʼn unitêre multikampus-universiteit waar alle studente op al die kampusse welkom moet voel.

Kgwadi het Woensdag tydens ʼn mediagesprek in Sandton sy visie van watter soort universiteit hy wil hê, bespreek. Dit kom net meer as ʼn week voordat die voorlegging van die strategiese plan aan die raad van die universiteit op 21 Augustus by ʼn werksessie sal plaasvind.

Volgens Kgwadi sal die nuwe strategie moet uitloop op ʼn “unitêre universiteit met ʼn geïntegreerde universiteitskultuur – een universiteit met drie sosiaal geïntegreerde kampusse en billike hulpbronverskaffing en -toewysing. In gewone taal: elke kampus moet ʼn regverdige deel van die koek kry.”

Afrikaans as onderrigmedium

Volgens Kgwadi het hy empatie met mense wat vrees dat hulle iets van hul eie kultuur of taal gaan verloor as die kampusse meer inklusief word. “My visie ondersteun beslis nie dat onderrig in Afrikaans op die Potchefstroom-kampus ingekort moet word nie, ook nie dat Afrikaanssprekende studente minder welkom op die Potchefstroom-kampus moet voel nie. Ek weet eintlik nie wat ek nog meer kan doen om vir mense te bewys dat ek nie teen Afrikaans of onderrig in Afrikaans is nie.”

Tog is verskeie belangegroepe bekommerd dat dit stil-stil die einde van Afrikaans as onderrigtaal op die NWU kan beteken indien die universiteit dieselfde pad as verskeie ander Suid-Afrikaanse tersiêre instellings volg. Van hierdie instellings het eenvoudig ná samesmelting en die sentralisering van die bestuurstelsels Afrikaans net nie meer as taal erken nie en só is daar sonder ʼn trompetgeskal weggedoen met Afrikaanse onderrig.

As hy praat van inklusiwiteit en toeganklikheid, sal dat dit nie ten koste van Afrikaans sal geskied nie, het Kgwadi egter gesê.

Dr. Dirk Hermann, voormalige lid van die NWU-raad en voorsitter van die Pro-Puk-veldtog, meen dat Kgwadi Afrikaans net met lippetaal dien. “ʼn Model wat die bestuur van die NWU sentraliseer, waar studente oor kampusse heen kan beweeg en die universiteit se studente en dosente die demografie weerspieël, maak dit struktureel onmoontlik om Afrikaans as ʼn voorkeur-onderrigmedium te handhaaf,” sê Hermann. Volgens hom meet ʼn mens ʼn strategiese plan aan sy uitkomste en nie aan die beloftes wat aanvanklik gemaak is nie. “Ek voel Kgwadi maak ʼn oneerlike argument rondom die korttermyn implikasies van sy visie en stippel nie die volle implikasies uit nie,” sê hy.

Studentelewe en -kultuur

Kgwadi het verder gesê hy beplan nie om in te meng met die studentelewe en –kultuur, veral op die Potchefstroom-kampus, nie. “Nêrens in die nuwe strategie word na die studentelewe verwys nie. Die strategie gaan byvoorbeeld nie verhoed dat daar rugby op die Potchefstroom-kampus gespeel word nie. Studente moet verantwoordelikheid vir hulle eie studentelewe neem.”

In teenstelling hiermee sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, hy is bekommerd dat daar reeds uit Kgwadi se kantoor met die studentelewe en -kultuur ingemeng word. Volgens Maree is daar gevra dat al drie die studenterade van die verskillende kampusse dieselfde registrasie- en oriënteringprogram moet toepas. “Elke kampus het ʼn eie kultuur en tradisie,” sê hy. “Wat sal van die jaarlikse waatlemoenfees op die Potchefstroom-kampus word en hoe gaan die ander kampusse dit toepas? Sommige kampusse het nie eers ʼn amfiteater nie.”

Maree is verder bekommerd oor hoe vinnig daar teen aksies, wat as “menseregtevergrype” beskryf word, opgetree word op sekere kampusse, terwyl ander voorvalle nie eens verder ondersoek word nie. Hy het hier verwys na die voorval waar studente van die Hombré-manskoshuis op die Potchefstroom-kampus geskors is nadat ʼn professor op kampus deur ʼn groep eerstejaarstudente omgestamp is, maar dat huiskomiteelede wat nuwe lede inlyf deur hulle te verskree, met goed te gooi en deur modderbaddens te jaag, nie eers op die Vaaldriehoek-kampus ondersoek word nie. “Ek glo daar sal ingemeng word en dat ernstige veranderinge op pad is, maar ek vertrou ook dat die studente van veral die Potchefstroom-kampus die middelgrond sal vind deur steeds deel van die verandering te wees terwyl hulle tradisies en die kultuur van die kampus handhaaf.”

Strategiese beplanningsproses en bestuursmodel

Volgens Kgwadi se kommunikasieraadgewer, prof. Johannes Froneman, word daar dikwels gevra hoekom die strategiese beplanningsproses in die eerste plek van stapel gestuur is. “Die feit bly staan,” het hy gesê, “wie ook al nou die vise-kanselier sou gewees het, is gewoon volgens regulasie verplig om so iets te onderneem. Geen onderneming of instansie kan voortbestaan sonder om van tyd tot tyd introspeksie te doen en nuwe toekomsplanne te maak nie.”

Alhoewel Kgwadi nie veel oor die inhoud van die nuwe strategie kon sê voordat dit volgende Vrydag voor die raad dien nie, is die visekanselier se visie vir die NWU duidelik uitgespel in spesifieke punte. Hy het dit laat blyk dat hy ʼn voorstander is van die “een dekaan, een fakulteit”-model, standaardisering van programme en die regverdige verdeling van hulpbronne en kennis tussen die kampusse. “Ek wil nie hê dat die geografiese ligging van ʼn kampus die kwaliteit van onderrig bepaal nie. Ek glo almal aan die universiteit gaan voordeel hier uittrek en faktore soos die gebruik van tegnologie sal iets soos die verdeling van kennis en hulpbronne oor die kampusse heen vergemaklik.”

Hermann meen die “een dekaan, een fakulteit”-model hou ʼn ernstige implikasie vir Afrikaans as voorkeur onderrigmedium aan die universiteit in. “ʼn Dekaan sal dan die taalbeleid kan bepaal en as die dekaan na die demografiese verteenwoordiging oor die drie kampusse kyk, is Afrikaans nie funksioneel as onderrigmedium nie. Afstand tussen die kampusse maak die bestuur van fakulteite moeilik omdat kontak in die tersiêre instellings tog maar belangrik bly. Sentralisasie gaan tot nadeel van die Mafikeng- en Vaaldriehoek-kampus wees omdat alles gesentraliseer sal word na Potchefstroom,” verduidelik Hermann.

Die baba en die badwater

Kgwadi het gesê daar is wyd gekonsulteer oor die nuwe strategie. “Daar is verskillende sienswyses wat ons in ag geneem het, maar dit is hoogs onwaarskynlik dat ons ʼn strategie sal hê waarmee almal sal saamstem. Tog moet die raad ʼn besluit neem en dit is dikwels die werk van ʼn leier om mense te neem waar hulle nie noodwendig wil wees nie, maar waar dit beter is vir almal.”

Kgwadi is egter oortuig dat die verandering aan die universiteit in die volgende paar jaar ten goede sal wees vir alle belangegroepe sonder om die kwaliteit van onderrig wat die universiteit bied, prys te gee. “Ek dink die belangrikste is dat almal aktief betrokke bly by die transformasieproses sodat almal kan help om die proses te bestuur. ʼn Mens kan nie bekostig om ʼn toeskouer in hierdie proses te wees nie.”

Hy het verder gesê dit is vir hom belangrik dat redes waarom studente besluit het om aan die NWU te studeer, behoue sal bly. “Dit sal eenvoudig dom wees om daaraan te karring, maar dit is ook belangrik om nuwe markte vir die NWU te ontwikkel. Ek is bewus van mense se vrese oor die nuwe strategie, maar ons gaan beslis nie die baba saam met die badwater uitgooi nie, die plan is om die universiteit te verbeter, te behou wat werk en te bestuur op ʼn volhoubare wyse.”

Dr. Theuns Eloff, voormalige vise-kanselier van die NWU, het in sy afskeidboodskap in Mei verlede jaar gesê: “Die vooruitgang van die NWU kan toegeskryf word aan die belangrike besluit wat die raad en bestuur vroeg in die samesmelting van die PU vir CHO met die Universiteit van Noordwes in Mafikeng en die Sebokeng-kampus van die destydse Vista-universiteit geneem het. Dit was om ʼn balans tussen eenheid en diversiteit te vind. Die besluit het behels om binne die groter institusionele visie en missie van die NWU elke kampus toe te laat om sy eie manier van doen, kampuskultuur en eienaarskap te ontwikkel en homself te bestuur.”

Eloff het toe al gewaarsku dat enigiemand wat planne het om die bestuursmodel te verander of dit te oorsentraliseer, moet onthou dat die pad van Suid-Afrikaanse universiteite besaai lê met wrakke van rade en besture wat hierdie feit uit die oog verloor het en transformasie as hoofdoelwit nagestreef het.

Die NWU se toekomstige resep tot sukses lê steeds in desentralisasie, met die drie kampusse wat hulle eie karakter en taalbeleid handhaaf, reken Hermann. “Dit is dieselfde model wat tot baie onlangs by die NWU gehandhaaf is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Bruno Stef ·

Daan en sy woordvoerder en sy raadgewers die duidelike antwoord is NEE vir al julle SG slim planne julle waarborge indien enige is net lippetaal op sy beste.Kyk om julle rond en let op na die ander onderrig sentrums wat op n daaglikse basis geteister word deur politieke agendas van kolleges tot Universiteite om afstand te doen van Afrikaans.

Chris ·

Net soos Karl Marx geglo het die Proletariat (Werkersklas) die Bourgeoisie (Kapitaliste klas) moet oorheers, so glo die ANC dat in elke fasset van die lewe, swart mense wit mense moet oorheers. Dit is hoe hulle demokrasie verstaan.

Dit is hoekom hulle praat van “white monopoly capital” en die “black workers”. Hulle het bloot net ideologies alle wit mense as n klas met kapitaliste saamgestel.

Die enigste ding wat hulle vir nou afgesweer het is die geweldadige revolusie. Hulle glo hulle kan kommunisme stelselmatig beriek deur die sogenaamde “National Democratic Revolution”, of “NDR”, deur die skroewe elke jaar net n klein bietjie stywer te maak.

Afrikaans is struikelblok in hulle pad, en hulle sal dit net dood eenvoudig uit die pad vee wanneer die tyd reg is.

Nic ·

Ek glo nie eers die “gewelddadige revolusie” is afgesweer nie. Kyk wat het pas in Over de Voor gebeur.

Gwen ·

Net ’n regstelling: die voorsitter van Afriforum Jeug is Henk Maree, nie Herman Maree nie.

Suné van Heerden ·

Dagsê Gwen

Dankie dat jy ons hierop gewys het – ons weet glad nie hoe dié fout ingesluip het nie!
Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Johannes Froneman ·

Dirk Hermann meen die twee kleiner kampusse (Mafekeng en Vaal) sal skade lei as daar groter sentralisasie van die NWU se bestuur op Potchefstroom is. Maar prof. Dan Kgwadi wil juis wegdoen met die groeiende “hoofkantoor”, hier genoem die Institusionele Kantoor. Die gedagte is juis om senior bestuurders liewers op al drie die kanpusse te hê. Dirk is dus nie korrek met sy aanname nie.

Ek hoop dat die volle voorgestelde nuwe strategie vir die NWU eersdaags openbaar sal wees. Dan kan ons verder oor spesifieke sake op ‘n feitelike basis gesels. Tans is die debat moeilik, want die dokument is nog vertroulik en slegs aan raadslede beskikbaar gestel.

Intussen wil ek vra dat ons menings op ‘n wyse stel wat ons as Afrikaners nie in die skande steek nie. Jy hoef nie prof. Kgwadi te glo nie; jy hoef nie van die nuwe planne te hou nie; maar om te beledig, het geen nut nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.