Khayelitsha-skietery eis 7de slagoffer; een verdagte vas

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

ʼn Twee-en-dertigjarige man is Maandag in hegtenis geneem in verband met die Khayelitsha-skietery waar ʼn groep mans Sondag in die vroeë oggendure by ʼn huis ingestorm en op die inwoners losgebrand het. Die liggaam van ’n sewende slagoffer is ook intussen gevind.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, het gesê die liggaam van die 34-jarige slagoffer is Maandagoggend deur die polisie buite ʼn hut in ʼn informele nedersetting naby die misdaadtoneel gevind.

“Die liggaam is vermoedelik dié van die eienaar van die huis waar die skietvoorval plaasgevind het. Die slagoffer het glo tydens die skietery gevlug,” het Potelwa gesê.

Maroela Media het vroeër berig vyf mense is op die toneel dood. Een van die beseerdes is kort ná hul aankoms by ʼn hospitaal dood verklaar. Saam met die laaste slagoffer het altesaam sewe mense tydens die skietvoorval gesterf.

Sewe mense is ook beseer en na die naaste hospitaal geneem vir verdere mediese sorg. ʼn Sesjarige meisie was onder die beseerdes.

Volgens Potelwa is hul tans besig om alle slagoffers te identifiseer en hul naasbestaandes te verwittig.

Slegs die een verdagte is reeds vasgetrek. Hy sal na verwagting binnekort in die hof sy verskyning maak.

“Namate die ondersoek vorder, sal daar meer inhegtenisnemings wees. ʼn Span speurders werk onverpoos om die ander verdagtes vas te trek,” het Potelwa gesê. Verskeie individue is reeds ondervra.

Verder het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, die voorval sterk veroordeel. Hy sê sulke voorvalle kom te gereeld voor – altesaam 15 voorvalle die afgelope 24 maande in die Khayelitsha-omgewing.

“Ek wil ook my innige meegevoel betuig aan diegene wat tydens die voorval geliefdes aan die dood afgestaan het,” het Fritz gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.