Khayelitsha-video: Man wás eers geklee, sê burgemeester

(Foto: Skermgreep uit die video)

Dan Plato, die burgemeester van Kaapstad, sê ʼn man wat in ʼn video kaal uit ʼn plakkershut in Khayelitsha gedwing en hardhandig hanteer word, het aanvanklik klere aangehad en was nie besig om te stort of te bad nie.

Maroela Media het vroeër berig vier wetstoepassers van die Kaapstadse metro gaan geskors word hangende ʼn ondersoek na die video. In die video, wat wyd op sosiale media versprei is, bars beamptes en ʼn kaal man skielik by die deur van ʼn plakkershut uit. Dit lyk of die nakende man hom probeer teësit om terug in die plakkershut in te gaan en hy val in die proses op die grond. Die beamptes keer hom, waarna begin word om die plakkershut af te breek.

Daar is vroeër gesê die man was besig om te bad toe hy uit die plakkershut verwyder is sodat dit afgebreek kon word. Die stuk grond in eThembeni, naby Empolweni in Khayelitsha waarop die man se hut was, behoort aan die Kaapstadse metroraad en daar was vroeër verskeie pogings om onwettige besetting op die grond te voorkom.

Plato het Vrydag in ʼn verklaring gesê ʼn span onafhanklike ondersoekbeamptes is aangestel om die omstandighede te ondersoek. “Ek het versoek dat onafhanklike ondersoekbeamptes aangestel word sodat die uitslag bo verdenking kan wees, gegewe die openbare belang in die saak,” het hy gesê.

Alle video’s en foto’s, insluitend beeldmateriaal wat die inwoners en wetstoepassers geneem het, sal nou aan dié span oorhandig word en hulle sal hul eie onderhoude voer.

“In dié beeldmateriaal kan ʼn man gesien word wat aanvanklik klere aan het toe die operasie begin. Hy was nie besig om in die struktuur te bad of te stort, soos aanvanklik berig is nie. Ondanks gerugte dat mnr. Qholani doelbewus sy klere uitgetrek het in ʼn poging om die teen-grondbesettingsveldtog te verhoed, keur ek nie die onwaardige of skandelike omstandighede goed nie. Ons wag nou vir die uitslag van die ondersoekbeamptes in dié verband.”

Plato het versoek dat die ondersoek voor 10 Julie afgehandel moet word.

Gushwell Brooks, woordvoerder van die SA Menseregtekommissie, het intussen in ʼn verklaring gesê die kommissie veroordeel die optrede van die beamptes. “Die optrede in die beeldmateriaal is ʼn duidelike oortreding van die reg tot menswaardigheid, die reg tot vryheid en sekuriteit van die persoon – veral die reg om nie behandel of gestraf te word op ʼn wrede, onmenslike, onwaardige manier nie,” het Brooks gesê. “Daar was roekeloosheid onder die beamptes oor of die slagoffer verneder moet word en sy menswaardigheid geskend moet word. Hierdie optrede behoort nie in ʼn demokratiese Suid-Afrika nie.”

Die MRK maan Stad Kaapstad en ander staatsliggame op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak, om beslissend op te tree teen diegene wat persone se menseregte skend.

Stad Kaapstad het toestemming, kragtens ʼn hooggeregshofbevel, om enige nuwe onwettige strukture op die betrokke perseel te verwyder. Dit is buiten 49 strukture wat die hof toegelaat het om tydelik op die grond te bly totdat die saak ten volle aangehoor is. Ondanks die hofbevel, moet wetstoepassers byna daagliks onwettige pogings tot grondbesetting op die eiendom voorkom. ʼn Grootskaalse waterprojek, ten waarde van R162 miljoen, is op die betrokke eiendom aan die gang. Dit sluit in installasiewerk van ʼn 6,3 km lange pyplyn van Faure na Khayelitsha langs Baden Powellrylaan en sal stabiele watervoorraad vir Khayelitsha beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PieterP ·

Dit glo ek! Menigmale in korrektiewe diensye het dke gevangenis dit gedoen. Jy jet nie vatplek aan sy klere nie en hy lyk opslag na die slagoffer! Net in SA is die wettelose die slagoffer.

JohanR ·

Lyk meer en meer na ‘n “setup!” En nou sal die ou ‘n betaling van R750000 kry. Ek moet meer al my klere uittrek, myself ‘n paar mal oor die kop en in die gesig met die vuis slaan, en dan skreeuend in die pad in hardloop, en se ek is deur die polisie aangerand.

Johan ·

Vra iemand ooit of oortreders SA burgers is. Indien nie, deporteer dadelik uit die land. Ek vermoed ons het hordes van buurlande wat SA belastingbetalers onderhou ten koste van ons eie burgers.

Sarel ·

Alweer lewer die MRK uitspraak voor ondersoek afgehandel is.

Die Wolf ·

MRK soek politieke bonus punte. Klink vir my asof daar n beweging aan die gang is om dissipline totaal weg te neem.

Blikkantien ·

Ek verstaan nie, kriminele word verheerlik en beskerm. Nou is hierdie persoon skielik ‘n slagoffer. Die hele storie maak my naar. Die wêreld het mal geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.