Khoisan-groep verlaat Pretoria in goeie luim

Shane Plaatjies, Chief Khoisan SA, Brendon Billings en Christian Martin praat met Mzamani Mwaila, direkteur van samewerkende regering en tradisionele sake buite die Uniegebou (11 Desember 2017) Foto: Brenda Masilela/ANA

ʼn Groep van vier Khoisan-aktiviste wat ʼn eetstaking by die Uniegebou in Pretoria gehou het, het Sondag die perseel verlaat en hul dankbaarheid uitgespreek vir die duisende Suid-Afrikaners wat hul saak ondersteun het.

Die vier Khoisan-mans het hul 24 dag lange betoging beëindig nadat adjunkpresident Cyril Ramaphosa met hulle vergader het. Die groep doen al weke lank ʼn beroep op pres. Jacob Zuma of sy adjunk om met hulle te vergader en hul memorandum in ontvangs te neem.

Hulle het ook ʼn verskyning gemaak tydens die ANC se verkiesingskonferensie in Johannesburg verlede week, maar is verhoed om die gebou te betree.

“Die adjunkpresident het na ons toe gekom en die memorandum onderteken. Dis waarom ons die heeltyd hier was. Ons is baie bly, want dit beteken ons kan nou oor Kerstyd saam met ons families wees. Wat ook positief is, is dat ons talle rasse hier verenig het,” het die 49-jarige stamhoof, Chief Khoisan SA, aan die African News Agency gesê. “Almal het ons ondersteun. Dit was baie positief.”

Die inheemse Khoisan-stamme eis erkenning van die Suid-Afrikaanse regering as “eerste burgers” van die republiek.

“Ons versoek status as eerste burgers. [Ons wil hê] ons taal moet ʼn amptelike taal word. Ons wil hê die Wet op Grondbesit van 1913 moet geskrap word, want dit verhoed ons om enige grondeise in te dien. Die vierde eis is dat die bruin identiteit geskrap moet word – dis nie wie ons is nie,” het Chief Khoisan SA bygevoeg.

Hy het gesê hulle koester geen wrokke oor die tyd wat die presidensie geneem het voor hulle met die stamhoofde kom vergader het nie.

“Ek is eintlik bly daaroor, want deur die tyd wat ons hier was, het baie mense ons kom besoek. Baie mense het positiewe terugvoer gegee en gesê hulle ondersteun ons. Dis die positiewe ding,” het Chief Khoisan SA gesê.

Die vier mans het van die Oos-Kaap na Pretoria gestap, vasbeslote om met Zuma of Ramaphosa te gesels.

Chief Khoisan SA het Sondag, toe die groep die perseel verlaat het, gesê hy het net goeie goed om te sê vir sy familie in Port Elizabeth oor die inwoners van Pretoria. “Ek sal vir hulle sê dat die mense van Pretoria my baie goed verwelkom het, en ek is baie bly daaroor,” het hy glimlaggend gesê.

Een van die “Khoisan 4”-groep, Christian Martin, is verlede week in die hospitaal opgeneem toe hy borspyne ontwikkel het. Die mans is al weke lank besig met ʼn eetstaking. Martin was Sondag egter in ʼn goeie luim toe hy die Uniegebou in ʼn motor verlaat het. Hulle was op pad na die lughawe om terug te vlieg na Port Elizabeth.

“Ek wil begin om God te dank en Hom te prys. Die mooi van hierdie situasie is dat ek en die Chief vanoggend in die kerk was, en ons het gebid vir ʼn deurbraak. Toe ons ons selfone aangeskakel het, was daar talle boodskappe dat Cyril by die ouens is. Ons kon dit nie glo nie. Ons was net opgewonde en gelukkig om huis toe te kan gaan. Die eerste ding wat ek gaan doen, is om my kleinkind op te tel en hom te omhels,” het Martin verduidelik.

Hy het ook sy dankbaarheid betoon aan die media vir die omvattende dekking van hul betoging. “As dit nie vir die media was nie, sou ons nie só ver kon kom nie. Die media is goed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Miena ·

Agggg… ek is soooo bly dat Pres. Cyril hul te woord kon staan !! Ek hoop van harte dat iemand die 4 mans ietsie te ete aangebied het !!!

Rabes ·

As ek na die vier se liggame kyk was hulle nie op ‘n eetstaking nie. Net weereens ‘n spul bog

Roche ·

Dis geen bog spul nie. Life med Ambulans
Diense se paramedici het twee keer n dag hulle “vitals” gaan vat en hulle gemonitor. Die manne se liggame het swaar gekry

Piet ·

Eetstaking met so pensie? Wys jou net die basis van suksesvolle diëet: Jy moet meer gebruik as wat jy insit, einde van die storie.
Hier wys die Chief vir ons, dat al eet jy niks, maar jy lê net op die Uniegebou se grasperk rond, gaan jou lyfie nie opferm nie.
Goeie werk julle, waardeer dit.

Basjan ·

Hulle praat onder andere Afrikaans ook. Ek het dit nie gelees nie, een van hulle het ‘n onderhoud met SAUK TV nuus gedoen, in Afrikaans.

Johan ·

Die ANC gaan nooit herken dat die Khoisan eerste was nie want dan gaan grondeise alle geloofwaardigheid verloor. Die Khoisan kan dan dalk die hele SA opeis.

theo ·

ek stem saam met jou, die koisan was eerste in die suidpunt van afrika, die swart stamme wat af beweeg het na die suidpunt het gekom en die mense(koisan) verjaag en net gevat, die voortrekkers het gekom en ge-onderhandel oor grond.

DNA ·

Nou loop hulle weer terug, hoop hulle is betyds vir kersfees………..

Peet Schabort ·

My voorgeslag kom van Eisfeld in Duitsland so 300-plus jare gelede. Ek sal moet ondersoek instel vir ‘n grondeis . . .

Peet Schabort ·

Korreksie: Die 300 jaar is in SA en moet lees 500 jaar gelede vir Eisfeld.

Ai toggie ·

Die khoi san was n nomadiese groep, hulle het nooit grond besit nie en slegs getrek van gebied na gebied vir groen weiding vir hul vee. Wat n klug, ek koop nie hierdie twak nie.

Boshond ·

Die internasionale reg sê uitdruklik geen nomadiese mense, stamme,.volkere kan
aanspraak maak op eiendomsreg nie. Hoe eerbaar die Khoi en San se saak ook al is, en ek is jammer om dit te sê, hul aanspraak op grond is net so ongeldig soos die “inkommers” Nguni’s en blankes. ( swart stamme vanuit Midde-Afrika en blankes vanuit Europa).

Boerseun ·

In 1913 was daar nie n republiek nie so hoe kan jy eerste burger wees?

Johanna Botha ·

Genade sal moet kyk want my voorouers was van Engeland …dalk wag daar n plaas vir my sonder dat ek dit eers besef hehe

LV ·

Toe doen Ramaphosa die regte ding,wat Zuma al 3 weke terug moes gedoen het. Dit se veel van menseregte as dit die manier is hoe die Pres sy landsburgers hanteer.

Nouja ·

Geseënde Kersfees aan die verbitterde klein volkie wat hul graag Christene noem dog niks vir andere gun wat oor die eeue heen meer onderdruk is as hulself.

Michelle van Centurion ·

Ek het die voorreg gehad om Chief Khoi-San, Christian Martin, Brendon Billings en Shane Plaatjies persoonlik te ontmoet( by die Uniegebou).
Watter wyse en respekvolle mense!
Trots op hul kultuur en nederig in hul omgang met mense.
Hul het soveel mense se harte aangeraak. Toe ek Chief vra wat hul nodig het, was sy antwoord…”net kos om die voëltjies te voer, asseblief”. (Daar was geweldig baie voëls reg rondom hul klein tentjies). Ek hoop hul kry die respek en aandag wat hul verdien.

Michelle van Centurion ·

Sover my kennis strek maak die
Khoi-San glad nie aanspraak op enige grond nie. Hul wil wel erkenning ontvang as eerste inheemse mense in SA en dat hul taal as een van die amptelike tale erken word. Ek het drie keer met hul ontmoet en glad nie die idee gekry dat hul al die pad na die Uniegeboue geloop het om grond op te eis nie. Sal moet sien wat die Memorandum behels. Al wat ek seker van is, is dat hul baie respek verdien. Dis baie hartseer dat hul deur soveel ontbering moes gaan voordat ons Presidensie ag geslaan het. En dit op die voorstoep van die Presidensie. En dit langs Madiba se standbeeld. Én dit nadat DNA navorsing van Nelson Mandela lank reeds bewys het, sy “maternal”-kant, pure Khoi-San was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.