Khoza: ‘Ek sal nie in stilte sterf nie’

Dr. Makhosi Khoza, ANC-LP (Foto: Facebook)

ANC-LP Makhosi Khoza sê indien die doodsdreigemente wat sy tans ontvang wel tot haar dood lei, sy nie in stilte sal sterf nie.

Dit kom nadat die ANC in KwaZulu-Natal vroeër vandeesweek gesê het die party sal dissiplinêre stappe teen Khoza doen omdat sy “die kernwaardes van die ANC blatant verraai het”. Khoza het Dinsdag by ʼn geleentheid wat as deel van Nelson Mandela-dag gehou is, ʼn beroep op pres. Jacob Zuma gedoen om te bedank en gesê sy vind dit onuithoudbaar om gelei te word deur ʼn man wat daarvan beskuldig word dat hy vroue teister.

Sy het gesê hoewel sy vanaf die ouderdom van 12 jaar deel van die ANC was, het sy begin om die konsep van demokratiese sentralisme te bevraagteken. “Ek het gevind dat uitsprake van die ANC-leierskap, wat kies om witmonopolie-agente te sien eerder as opregte bekommernisse van die mense, teenstrydig is met die einste ANC-grondwet wat nog altyd my politieke morele gewete gevorm het.”

Khoza het Donderdag in ʼn inskrywing op haar Facebook-profiel gesê sy word nou as ʼn moeilikheidmaker uitgebeeld deur diegene wat wil hê sy moet stilbly. “Ek word van uitsonderlike swak dissipline beskuldig omdat ek opstaan vir dit waarin ek glo,” het sy geskryf. “Hoewel sommige van my comrades my ondersteun, het ander teen my gedraai en my van opstandigheid beskuldig terwyl hulle kies om hulle te skaar by diegene wat my en ons beweging wil seermaak en inderwaarheid ons nasie wil vermoor.”

Khoza het gesê baie mense moes “ʼn stille dood sterf” toe hulle probeer het om op te staan vir dit waarin hulle glo. “Die herinnering van ʼn jong vrou wat gedurf het om ’n magtige man van verkragting te beskuldig, hang steeds in die lug, selfs nadat sy verban is tot ʼn stille dood. Hoekom moet my liggaam gevoeg word by die ander wat onskuldig gesterf het en ek moet stilbly daaroor? Hulle kan my maar etiketteer, maar my besluit is gemaak. Ek sal nie in stilte die nag ingaan nie.”

Sy het beklemtoon dat sy nie die enigste ANC-LP is wat al uitsprake van dié aard gemaak het nie en het genoem dat Pravin Gordhan ook ʼn paar dae gelede gesê het Zuma moet bedank. Volgens Khoza is daar ʼn ander regstelsel in die ANC vir vroue, aangesien verskeie ANC-leiers hulle al in die openbaar teen die president uitgespreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elon ·

Sy kan maar president wees. Klink of sy baie integriteit het.

Eish ·

Die Zille van die ANC!
Mag meer medeburgers tot besef van die waarheid kom en hul loswikkel van die verlammende effek van die heuningpot!

Jeannette ·

Gee hulle gas, Dr. Khosa!!!!!!!! GEE HULLE GAS!!!! Snaaks, velerlei ANC-steunende mans het al pertinent vir Zuma gesê/gevra om te bedank, maar daar is nie so te velde getrek teen hulle nie. Is daar dan ‘n ANC vir mans en ‘n ANC vir vroue? En, so gepraat, waar IS die ANC Vroueliga nou?

njertsie ·

onthou destyds toe khwezi vir zuma van verkragting aangekla het, het 2/3 swart mans t-hemde gedra met sy gesig op en 100% zuluboy daarop? ek het destyds al die indruk gekry dat due Zulu mans as verhewe bo vroue oor die algemeen gesien word. ek weet die (Zulu) mans eet tuis aan tafel maar die vroue eet nie saam met hulle nie. dit vertel die hele storie.

sterkte Dr khoza. ons bid vir jou veilugheid en hoop daar is iewers n “I. case of my death” document.

Eish ·

Mag sy sterk staan in haar oortuiging.
” When days are dark, friends are few”.

amelia ·

Sorg dat die waarheid en nog meer uitkom indien jy vermoor word. Ekkyk op na iemand wat vir die waarheid staan.

CB ·

Sjoe die woorde indien jy vermoor word… Amelia dis heelwaarskynlik ‘n Ma, vrou, dogter, suster. Natuurlik stem ons saam laat die waarheid uitkom, maar om so ligtelik te verwys na indien jy vermoor word is onsensitief. Sy leef 1 keer …

Vermeende ·

Vir almal hier bo wat nog n godin ontdek het om te aanbid en besing, as sy regtig so geregtig en regverdig is, wat de hel soek sy nog in die ANC, is dit dalk die geld wat haar nog daar hou?

KarenG ·

Ek sien haar beslis nie as ‘n godin nie, maar kan haar respekteer vir die feit dat sy standpunt inneem en nie buig teen die intimidasie nie. Hoekom moet sy nou die ANC verlaat, sy veg vir iets waarin sy glo….

Michelle ·

Merkwaardige vrou.
Stel jou standpunt.
Se jou se – moenie beinvloed word nie.
Staan vir wat reg is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.