Khulubuse Zuma beweer hy is nié in die VAE

Khulubuse Zuma. Foto: Sunday Times

Khulubuse Zuma, voormalige direkteur van die gelikwideerde Aurora Empowerment Systems, het Donderdagaand vir Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, gebel en aangevoer dat hy nooit die land verlaat het nie en dat Solidariteit se onlangse mediaverklaring wat beweer dat Zuma hom in die Verenigde Arabiese Emirate bevind, vals is.

“Zuma het aangevoer dat hy nog heeltyd in sy private woning woonagtig is. Zuma het verder aangedui dat hy bewus is daarvan dat hy sekwestrasie in die gesig staar omdat hy nie aan die bepalings van ʼn terugbetalingsooreenkoms, wat met die Aurora-likwidateurs aangegaan is, voldoen het nie. Volgens Zuma is hy in ʼn ernstige finansiële verknorsing en sal hy nie die sekwestrasie-aansoek wat op 8 Desember 2017 in die Durbanse hooggeregshof aangehoor word, kan teenstaan nie, en in elk geval ook nie regsverteenwoordiging kan bekostig nie,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis het gesê omtrent duidelikheid oor waar Zuma homself bevind, het John Walker, regsverteenwoordiger van die Pamodzi-likwidateurs, Solidariteit meegedeel dat die balju nie die sekwestrasie-aansoek teen Zuma by sy private woning op hom kon beteken nie, omdat hy nie daar woonagtig was nie en ʼn sekuriteitswag aangevoer het dat Zuma ʼn geruime tyd lank nie by die huis was nie. Die aansoek kon ook nie op Zuma se prokureurs beteken word nie omdat nie een van sy vorige regsverteenwoordigers met hom kontak kon maak nie.

Du Plessis het verder gemeld in die telefoongesprek tussen hom en Zuma het Zuma aangevoer dat hy geteiken word omdat hy ʼn Zuma is en weens die politieke agenda is hy ʼn slagoffer veral as gevolg van sy verbintenis met sy oom pres. Jacob Zuma.

Du Plessis is van mening dat politieke beïnvloeding wel duidelik agter die skerms sigbaar was, soos dat regsprosesse oor ʼn tydperk van agt jaar uitgerek kon word voordat die Aurora-direkteure uiteindelik skuldig bevind kon word aan die R1,5 miljard se skade wat aan die Pamodzi-mynbates aangerig is asook die grootskaalse korrupsie wat gepleeg is.
“Zuma was egter die enigste Aurora-direkteur wat nie aan korrupsie skuldig bevind is nie,” het Du Plessis gesê.

Zuma het ook teenoor Du Plessis opgemerk dat die slegte nuusdekking wat hy weens die Aurora-sage ontvang het, al sy sakebelange en toekomstige sakegeleenthede tot niet gemaak het.
In die verklaring het Solidariteit Zuma daarop gewys dat 5 300 onskuldige Aurora-werknemers weens dié maatskappy se growwe wanbestuur en korrupsie hul werk verloor het en nou in armoede gedompel is, én dat miljoene rande se uitstaande salarisse nog aan hulle verskuldig is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marous ·

Ek glo die man , want in ‘n gewone vliegtuig sal hy nie pas nie …

Boet Fasie ·

Marous – ek glo hom nie , daar is ‘ n vrag vliegtuig iewers wat op Waterkloof kon land.

Sus ·

Shame….nou word hy kwansuis geteiken omdat hy ‘n Zuma is. In your dreams man, dis omdat jy ‘n skelm is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.