Kies om veilig te wees

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaanse kiesers gaan binnekort na hul naaste stemlokaal om hul merk in die 2021 munisipale verkiesing te maak.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê dat meer as 23 000 stemstasies op Maandag, 1 November tussen 07:00 en 21:00 beskikbaar sal wees vir die verkiesing, terwyl spesiale stemme op Saterdag 30 en Sondag 31 Oktober, tussen 08:00 en 17:00 ingesamel sal word.

Charnel Hattingh, hoof van bemarking en kommunikasie by Fidelity ADT raai alle landsburgers aan om op hiérdie verkiesingsdag paraat te wees.

“As jy gaan stem, onthou asseblief om basiese veiligheidsmaatreëls na te kom om te verseker dat jy jou stemreg op ‘n veilige manier uitoefen” sê sy. “Dit is eerstens belangrik om jou huis behoorlik te sluit wanneer jy na die stemlokaal vertrek.”

“Die meeste stemstasies is by skole, kerke of gemeenskapsentrums in voorstede geleë. Die feit dat jy net ‘n paar honderd meter in die pad na jou naaste stemlokaal moet stap om te gaan stem, beteken nie dat jy minder bekommerd hoef te wees oor inbrake nie. Maak seker dat jou deure en vensters deeglik toegemaak en gesluit is, en skakel die sekuriteitstelsel of alarmstelsel aan wanneer jy jou eiendom verlaat.”

Hattingh beveel ook aan om spoggerige juweliersware of ander duur elektroniese toestelle of bates tuis te laat en deugdelik weg te bêre.

“Onthou om jou ID -kaart of ander dokumente wat die OVK mag benodig saam te neem om jou stem te laat tel,” sê sy.

Wanneer jy na die stemlokaal ry moet die volgende advies ook in ag geneem word:

“Moenie waardevolle items in jou motor los nie, en maak seker dat jou motor gesluit is voordat jy wegstap. Volg dieselfde soort aanbevelenswaardige veiligheidsmaatreëls as wat jy sou wanneer jy by ‘n winkelsentrum parkeer, of jou motor in die nag in die straat laat staan” verduidelik Hattingh.

Die SAPD sal teenwoordig wees by alle stemstasies, jy kan dus dadelik om hulp vra as daar iets of iemand is wat jou ongemaklik laat voel of jou enigsins agterdogtig maak.

“Uiteindelik is dit ook belangrik om aandag aan jou omgewing te gee wanneer jy op pad is na die stemlokaal, asook wanneer jy terug keer huis toe. Hou deeglik dop of iemand jou moontlik agtervolg, en skakel om hulp van die SAPD of jou sekuriteitsmaatskappy sodra jy onveilig voel.”

Dit is altyd ‘n goeie idee om kontaknommers van die plaaslike polisie of veiligheidsmaatskappye op jou selfoon te stoor, sodat jy blitsig met hul in kontak kan kom in ʼn noodgeval.

“Alhoewel die dag as ‘n openbare vakansiedag verklaar is, sal daar steeds gewapende reaksiebeamptes van Fidelity ADT aan diens wees om strate en voorstede te patrolleer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Heinrich ·

Kriminele is vry op straat terwyl wetsgehoorsame landsburgers hulself en hul besittings moet toesluit; jup, klink soos die nuwe piesangrupubliek van Mzanzi

Harley Davidson ·

Alles klink reg tot by die gedeelte van jy kan by die polisie hulp vra ,miskien in Europa of die VSA maar in Suid-Afrika vermy jy die polisie as jy veilig wil wees.

Gideon ·

Agv die misdaad, onbevoegde polisie om mens veilig te hou, en covid braai ek Maandag eerder rustig by my huis saam my gesin.

Shakespeare ·

Wat ‘n totale ineenstorting van ons land wat baie jare gelede as ‘n vooruitstrewende suksesvolle land bekend was. VIVA ANC/EFF/BLM

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.