Kieser sterf by stempunt

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die stemmery by ʼn stempunt in Strydenburg in die Noord-Kaap is Woensdag onderbreek toe ʼn kieser by die stempunt gesterf het.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het gesê dit wil voorkom of die persoon gesterf het weens natuurlike oorsake, maar die polisie het dit nog nie bevestig nie. “Die polisie is op die toneel en stel ondersoek in,” het die OVK gesê.

“Die oorgrote meerderheid van die land se 22 612 stempunte het om 07:00 oopgemaak en die stemproses verloop glad,” het Vumana Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, aan verslaggewers by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria gesê. “Die OVK word bemoedig deur berigte dat talle persone vroeg reeds opgedaag het om te stem, en dat talle kiesers al selfs voor 07:00 gestaan en wag het om te stem.”

Mashinini het gesê volgens berigte is die situasie kalm en stemmery verloop glad in plekke wat as moontlike probleempunte aangedui is voor die verkiesing. Dit sluit Vuwani, Limpopo; Emfuleni en Midvaal in Gauteng; en Umzimkhulu in KwaZulu-Natal in.

“Daar is slegs geïsoleerde gevalle van onrus en gemeenskapsbetogings wat die verkiesing ontwrig het by ʼn paar wyke in die Oos-Kaap, waaronder wyk 16 in Ntabankulu en wyk 8 in Amathole. Veiligheidsmagte is ontplooi om seker te maak dat die verkiesing so gou as moontlik kan hervat.”

Hy het gesê daar was ook ʼn paar vertragings by ʼn klein persentasie stempunte weens ʼn verskeidenheid van oorsake waaronder tente wat oornag omgewaai het in die Vrystaat (Qwaqwa) en Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap, asook verkiesingspersoneel wat laat opgedaag het en verkiesingsmateriaal by ʼn paar stempunte. “Verkiesingspersoneel was ook betrokke in vier afsonderlike motorongelukke, maar niemand is ernstig beseer nie,” het Mashinini gesê.

Kiesers kan nog tot vanaand om 19:00 stem voor die stempunte sluit. Kiesers wat teen 19:00 reeds in die ry staan of reeds by die stempunt is, sal toegelaat word om te stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê jaco

Ons vra om verskoning vir die flater! Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ben ·

Die “flaters” kom baie voor. Die berig oor die Olimpiese Spele medaljes is ook verwarrend. Proeflees!!!

Adriaan ·

Hier by ons moes ek so 8:00 die OVK lede met my bakkie gaan uitsleep nadat hulle van die pad af geglei het na die bietjie reen gistersaand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.