Kieseradresse: Hof vra tydelike ooreenkoms tussen partye

Argieffoto

Argieffoto

Die konstitusionele hof het Maandag die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gevra of daar ʼn kans is dat die onderskeie partye ʼn tussentydse oplossing tussen hulle kan vind vir die kwessie oor kiesers se volledige adresse op die kiesersrol.

Die hof het Maandag ʼn dringende aansoek deur die OVK aangehoor om ʼn vorige besluit van die verkiesingshof ter syde te stel. Die verkiesingshof het vroeër beslis die tussenverkiesings, wat in Februarie in Potchefstroom (Tlokwe) gehou sou word, moet uitgestel word. Die hof het die OVK beveel om die fisieke woonadresse van mense op die kiesersrol te bevestig vir toekomstige verkiesings.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het adv. Andre Bosman, die regsverteenwoordiger van die onafhanklike partye, gevra of die partye “na mekaar kan uitreik” en gemene gronde oor die kwessie kan vind.

“Is dit ʼn redelike voorstel om aan die partye te maak dat julle tussen nou en die lewering van die uitspraak, wanneer ons tot daardie punt kom, met mekaar probeer ooreenkom op redelike voorwaardes wat die hof dan kan oorweeg?” het Mogoeng gevra. “Sulke voorwaardes sal ten doel hê om seker te maak dat die verkiesing wel voortgaan, maar ook voorsiening maak dat [die OVK] wel aan al die nodige wetlike vereistes voldoen binne die kort tydperk wat vir hulle beskikbaar is.”

Bosman het geantwoord dat daar geen rede is hoekom ander opsies nie oorweeg kan word nie en dat die OVK na kiesers kan uitreik deur advertensies in massamedia soos SMS, radio en televisie. “Ons sal poog [om ʼn oplossing te vind] en dit is in die belang van almal daarby betrokke om so ’n oplossing te vind,” het Bosman gesê.

Adv. Anton Katz vir die DA het aan die hof gesê dat tussenverkiesings anders is as algemene verkiesings omdat daar “ander tipe uitdagings ter sprake is” soos by Tlokwe ervaar is. “Die situasie in algemene verkiesings, wanneer alle wyke op dieselfde tydstip stem, is dat ek na enige wyk toe kan gaan om te stem en my vinger sal met ink gemerk wees sodat ek nie weer by ʼn ander wyk kan gaan stem nie. Of ek nou in die regte wyk gestem het of nie, ek het my reg uitgeoefen om te stem,” het Katz gesê.

Hy het gesê tydens tussenverkiesings is die uitdaging dat daar slegs een wyk op ʼn slag ʼn verkiesing hou. Daarom kan ʼn persoon opdaag en by die wyk stem, al is hy of sy nie geregtig om in die wyk te stem nie. Die DA was dus bekommerd daaroor dat die kiesersrol nie volledige adresse bevat nie, aangesien mense dan maklik by enige wyk kan stem in ʼn tussenverkiesing.

Die onafhanklike kandidate, onder wie die DA en die IVP, staan die OVK se aansoek teen en voer aan die OVK is wetlik verplig om ʼn kiesersrol met volledige adresse te kan voorsien. Die ANC, die departement van samewerkende regering (Cogta) en die Nasionale Huis van Tradisionele Leiers (NHTL) ondersteun die OVK se aansoek.

Katz het verder gesê daar is ʼn komitee binne die OVK wat bestaan uit verteenwoordigers van die onderskeie partye wat reeds oor ʼn oplossing vir die kwessie probeer ooreenkom het. “Soos ek verstaan, het onderhandelinge vasgeval. Daarom stel ons voor dat die OVK ʼn bevel voorstel en enige party wat daarop wil reageer, moet dit binne ʼn paar dae volgens die hof se vereistes doen.”

Mogoeng het geantwoord hy is vas oortuig dat dit in die beste belang van al die partye is om ʼn oplossing te probeer vind wat almal sal pas.

Die saak wat tans aangehoor word, is deur ses onafhanklike partye voor die verkiesingshof gebring nadat hulle gekla het die OVK kon nie ʼn kiesersrol met volledige adresse verskaf in aanloop tot die Tlokwe-tussenverkiesings nie. Die onafhanklike kandidate hou vol die OVK het versuim om aan ʼn uitspraak van die konstitusionele hof in November 2015 te voldoen waarin die uitslae van die Tlokwe-tussenverkiesings in 2013 ter syde gestel is.

Die kommissie voer egter aan dat, indien die verkiesingshof se uitspraak nie ter syde gestel word nie, die OVK 12 miljoen kiesers van die kiesersrol sal moet verwyder omdat formele adresse nie tans vir hulle beskikbaar is nie. Die OVK vra die hof om ʼn regverdige en billike oplossing te gee wat die instansie vryspreek van die verpligting om adresse vir alle geregistreerde kiesers te kry voor vanjaar se munisipale verkiesing en die nasionale en provinsiale verkiesings in 2019.

Uitspraak in die saak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Hoekom was 12 miljoen kiesers so angstig om te stem al het hulle nie eens ‘n blyplek/adres nie? Hulle weet waar om te registreer, maar weet nie waar hulle bly nie? Vreemd. Daar word beweer daar is chemiese middels wat die merkpen se ink wat gebruik word tydens die stemproses, binne ‘n japtrap verwyder. Mens wonder of dit waar is.

Kandas ·

Ja, mens noem dit skropborsel en domestos. Ek het nog met elke verkiesing daardie merkpen in ‘n japtrap van my vingernael afgeskrop.

Moeks ·

Die gee van bewys van jou adres was standaard self in vorige verkiesings. Die OVK het jare al gehad om dit reg te stel. Hoekom is al die kiesers nie dieselfde behandel nie? Ek dog alles is so streng en regverdig gewees? Sal altyd verskonings opdis wat hulle pas. Waarvoor is RICA en FICA dan daar. Die meeste mense het tog seker ‘n selfoon of bankrekening.

Rosa ·

Presies ! Kyk maar mooi hoe hulle kiesers versprei waar nodig. Hoekom is daar nou skielik 18 miljoen sonder adresse. Sekerlik luister hulle radio en lees koerant. Hulle kan ‘n adres gaan indien, alle shacks word genommer al spring hulle op soos sampioene. Tensy hulle ingery word met busse waar nodig om ‘n shack op te slaan en te stem.

KP ·

Hoekom kan ons nie elektronies stem waar alles op n sentrale data basis verwerk word en dit onmoontlik maak om twee keer te stem nie skakel alle papierwerk uit. Soos tereg gese word hoekom is RICA daar. Hierdie ink op die vinger en buidige stem stelsel is net om bedrog te pleeg.

Hendrik ·

KP dit is nie sommer iets wat in ‘n japtrap gebeur nie en dit kos tyd en geld om so stelsel te ontwikkel. Onthou hoe meer beheer en kontroles daar is teen korrupsie hoe minder kans het die ANC om weg te kom met fnuikery of stem knoeiery. Dit wil die ANC nie he nie. Die demokrasie wankel maar rond en die DA se standpunt dat jy ten minste gaan stem werk nie vir my nie.

Varkie ·

Ek self al gesien in my eie woonbuurt hoe die ANC keer op keer wen, en nie dat ek ras aan stemme bind nie maar dis n klomp bejaardes wat hier bly en ek seker nie een van hulle sou ANC stem nie omdat hul alewig kla oor swak diens by munisipale instansies… maar nou ja..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.