Kieserregistrasie landswyd in volle swang, sê OVK

Kieserregistrasie voor die 2019- algemene verkiesing is in volle swang by stempunte landswyd, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), Saterdag gesê.

Berigte van die OVK se provinsiale bedrywighede bevestig dat ongeveer 99% van die 22 925 stempunte betyds oopgemaak het en ʼn egalige stroom kiesers besoek dié punte om te registreer of hul registrasiebesonderhede by te werk, het die OVK in ʼn verklaring gesê.

Buiten ʼn klein getal stempunte het die kieserregistrasie Saterdagoggend teen 11:00 vlot verloop.

Probleme by ʼn paar punte tydens die aanvang van die finale registrasienaweek sluit ongunstige weersomstandighede in by ʼn paar provinsies waar toegang tot stempunte geraak is, veral weens oorstromings of onbegaanbare paaie. Stempunte wat in tente opgerig is, is veral deur sterk wind en swaar reën in die ooste van die Vrystaat, dele van Gauteng, die kusgebied van KwaZulu-Natal en dele van Limpopo geraak, het die OVK bygevoeg.

In meeste van die gevalle het bedrywighede by die stempunte teen 11:00 begin toe die tente weer stewig vasgemaak is.

ʼn Tweede probleem was die impak van sporadiese betogings wat die stempunte geraak het. Van die stempunte kon nie betyds oopmaak nie, omdat toegang tot die stasies beperk is weens paaie wat versper is.

Ongeveer 140 stempunte (0,6%) was teen 11:00 nog nie oop nie, weens gemeenskapsbetogings. Dit sluit die volgende gebiede in:
– Oos-Kaap: Amahlati; Mbizana; Thabankulu;
– Vrystaat: Bloemfontein (Khayelitsha);
– Gauteng: Tshwane (Mooiplaas; Pienaarspoort); Ekurhuleni (Kathlehong; Boksburg; Sebokeng); West Rand (Munsieville); Johannesburg (Lawley; Ivory Park);
– KwaZulu-Natal: Ulundi; uMsunduzi; Ndwedwe;
– Limpopo: Elias Motsoaledi; Polokwane; Ramamabolo; Giyani;
– Mpumalanga: Gert Sibande; Sekunda; Bushbuckridge;
– Noordwes: Rustenburg;
– Noord-Kaap: Dikgatlhong; en
– Wes-Kaap: Gugulethu.

“Die situasie word in al hierdie gebiede gemonitor en OVK-beamptes werk met staatsveiligheidagentskappe saam om seker te maak die stempunte maak so gou as moontlik oop en is veilig vir kiesers en verkiesingsbeamptes,” het die OVK benadruk.

Die OVK het gesê sy kontaksentrum is onder druk weens die hoë volume oproepe wat hulle moet hanteer. “Ons het tot dusver 2 700 oproepe, 300 navrae op sosiale media en 200 e-posse (sedert Saterdag om 08:00) hanteer. Ons maan kiesers, wat reeds geregistreer is, om van die ‘CLICK, CHECK en CONFIRM-portaal’ op ons webwerf gebruik te maak om te bevestig dat jou korrekte adres op die stelsel geregistreer is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Posduif ·

Die probleem is net….daar is geen party om voor te stem nie.

Tgj ·

O ja jy stem vir VF+. In koalisie is hulle goud werd vir die minderhede. Stem asb reg.

Stem ·

Hoekom nie Cope nie – het nog nie vir hulle gestem nie, maar hou van hoe hulle dink! Gaan hulle hierdie jaar ‘n kans gee.

Stompie van As ·

Posduif ek verstaan nie jou argument nie. Suid Afrika het sekerlik die meeste politieke partye in die wereld. As nie een by jou waardes inpas nie stig dan nog een .

Posduif ·

Stompie, dit is nie n argument nie. Ek kan my net nie met eenige van die partye vereenselwig nie, en hoekom sal ek n pary wil stig?

zoom zoom ·

Ek het ook gaan registreer gister maar ek het nie ‘n T-hemp of ‘n kospakkie gekry nie. Nie een van die partye het my grond belowe nie. Het gehoop ek kry ‘n overall by iemand sodat ek aan my kar kan werk

Hansie Slim ·

Zoom zoom… skerp.. hoor!!! Soek ook daai rooi overall..en t-hemp.. vir die garage .?
Ek sien nie dat enige party hierdie mooi land sal reg ruk nie. Nie in my leeftyd in elk geval nie!! Die kliener partye is p… teen donderweer!!!

Mielie ·

Ek wil net graag weet wat “internasionale” registrasie beteken. My werker is bogenoemde toegestaan en reken hy kan nou stem net waar hy wil.

John ·

Die ANC lief ons groot opdaag vir die volgende demokratiese kamma-verkiesing terwyl hulle ‘n eenpartystaat-regeringswyse handhaaf. Die powere ander partye dien geen doel nie behalwe dat dit aan die buiteland toon dat CR ‘n wonderlike demokrasie hier op die been het. ‘n 2/3 meerderheid kom danksy die DA wat die EFF opgehef het tot ‘n groep wat daagliks op TV sy gewig rondgooi. Die Pieter Party gaan uiteindelik die Pieter-prinsiep waar maak. Om iemand wat vir jare skandes gemaak het nou te wil intrek… Nogal as partyleier in die Kaapprovinsie… Pieter Mulder se handjie is steeds in die paai.

GM ·

Hul webwerf gooi net ‘errors’ uit? Ek het nogal ‘n gevoel gehad dat dit gaan gebeur. ??‍♀️

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.