Kieserregistrasie met twee weke uitgestel

Argieffoto (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

Die Verkiesingskommissie het die kierserregistrasienaweek met twee weke uitgestel in die lig van die huidige derde golf van die Covid-19-pandemie.

Die kommissie het Woensdag tydens ʼn spesiale vergadering besluit om die kieserregistrasienaweek van 17-18 Julie uit te stel na 31 Julie – 1 Augustus.

“Die besluit is geneem ná ʼn hersiening van die huidige omstandighede, insluitend die koers van infeksies en hospitalisasie die afgelope sewe dae en die impak daarvan op voorbereiding vir die registrasienaweek,” het Kate Bapela, woordvoerder van die NVK, gesê.

Die kommissie het ook besware in ag geneem wat deur politieke partye geopper is, asook waarskuwings van gesondheidsbeamptes en ander kenners. “Gesondheidskenners het verlede week gesê die huidige golf sal waarskynlik tot minstens die einde van dié maand voortduur.”

Die uitstel het egter ʼn impak op sekere datums en aktiwiteite, insluitend die proklamasie wat met vier dae tot 6 Augustus uitgestel word. Die kommissie bly egter vol vertroue dat ʼn suksesvolle verkiesing steeds gehou kan word binne ʼn korter tydperk van 82 dae eerder as die oorspronklike 86 dae.

Meeste partyverteenwoordigers by die vergadering het die besluit verwelkom, alhoewel partye, wat ten gunste was van uitstel, gemaan het dat dit langer uitgestel moet word.

“Die kommissie wag vir die finale verslag van die Moseneke-ondersoek of die verkiesing vry en regverdig kan wees as dit voortgaan op 27 Oktober. Die ondersoek word gelei deur voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke. Hy sal na verwagting sy verslag en aanbevelings op 21 Julie aan die kommissie voorlê.”

Bapela sê die kommissie sal steeds verwikkelings rondom die Covid-19-pandemie, die uitslag van die Moseneke-ondersoek en ander relevante faktore oor die volgende paar weke monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

So vlak 4 van inperking gaan ook verleng word tot net voor 31 Julie.

Bart-Man

Kan mens aanlyn registreer.