Kiesers kan van dié naweek af registreer

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) van Suid-Afrika het Maandag alle kiesers landwyd aangemoedig om die naweek stemstasies te besoek om die kiesersrol by te werk met die oog op die algemene verkiesings van 2019.

Daar sal na verwagting 22 612 stasies landwyd oop wees op 10 en 11 Maart tussen 08:00 en 17:00 vir kiesers wat vir die eerste keer sal stem, asook vir diegene wat wil herregistreer omdat hulle byvoorbeeld na ʼn nuwe wyk, dorp of provinsie verhuis het.

Die OVK hoop dat dié naweek die organisasie sal help om adresse van alle geregistreerde kiesers te bekom ingevolge ʼn uitspraak van die konstitusionele hof in 2016 wat die OVK tot Junie 2018 tyd gegun het om die kiesersrol met alle beskikbare adresse op te dateer.

Mawethu Mosery, KwaZulu-Natal se provinsiale verkiesingsbestuurder, het by ʼn nuuskonferensie aan joernaliste gesê aanvaarbare adresse sluit huisadresse en residensiële komplekse in.

Vir landelike adresse moet kiesers onder meer die nedersettingnaam, die dorp asook ʼn beskrywende pleknaam verskaf.

Mosery het gesê die OVK het sedert 2016 verskeie metodes gebruik om gehoor te gee aan die hofuitspraak. Die metodes sluit die plaaslikeregering-verkiesings in 2016, tussenverkiesings, tolvrye nommers asook bystand van munisipaliteite in.

Volgens hom is daar tans 5 317 661 geregistreerde kiesers in KwaZulu-Natal. Uit hierdie getal het 555 979 van hulle nie adresse nie, terwyl 832 616 van hulle onvolledige adresse het.

Volgens hom het die konstitusionele hof die OVK nog nie in kennis gestel of die metodes wat die kommissie gebruik doeltreffend was om die adresse van stemmers wat in aanmerking kom te bekom nie.

“Suid-Afrikaanse burgers [wat ten tyde van die verkiesing 18 jaar en ouer sal wees] met ʼn ID-boek, ʼn ID-kaart of tydelike ID-sertifikaat kan as kiesers registreer,” het Mosery gesê.

Hy het gesê 4 793 stasies sal die naweek in KwaZulu-Natal oop wees, asook die kantore van die departement van binnelandse sake.

Indien lede van die publiek wil vasstel of en waar hulle geregistreer is, kan hulle 0800 118 000 skakel tussen 08:00 tot 17:00 van Maandag tot Vrydag.

Alternatiewelik kan mense hul ID-nommer na 32810 SMS. Die persoon sal ʼn SMS ontvang wat die adres van hul kiesstasie bevat. Dié SMS kos R1.

Kiesers kan ook www.elections.org.za/MyIEC besoek en hul besonderhede by dié webwerf aanpas en op datum bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amelia ·

Eish en ek gryp die almanak en dit is op n Saterdag en Sondag. Gedag ons gaan iewers bietjie n vakansiedag kry. lol

bgj van der westhuizen ·

hel nee daar is al te veel vakansiedae per jaar

ontevrede leser ·

ek se nog, vingers “scan”,
dit kan dan ook gebruik word vir belasting doeleindes, betaal belasting, dan kan jy stem.
die polisie kan dan ook ‘n “ogie” oor jou hou, maak jy moeilikheid, dan weet hulle van jou.
vuurwapen lisensie aansoeke.
alle plekke van belang waar jy in of uit gaan.
ens
tegnologie is daar, dit moet net gebruik word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.