Kiesers soek ANC-DA-koalisie – peiling

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: @myanc/Twitter)

’n Nuwe meningspeiling toon dat een uit elke vier Suid-Afrikaners ’n ANC-DA-koalisie verkies sou die ANC nie daarin slaag om ’n 50%-plus-een-meerderheid in die komende verkiesing te behaal nie. ’n ANC-EFF-koalisie blyk ook vir byna net soveel kiesers ’n eerste keuse te wees.

Die politieke dinkskrum Social Research Foundation (SRF) se jongste peiling toon dat 25,4% van 1 835 respondente sal verkies dat die ANC ná 29 Mei in samewerking met die DA regeer.

Nie veel minder respondente (24,9%) nie het egter aangedui dat ’n koalisie tussen die ANC en die EFF húl eerste keuse sou wees.

Altesaam 12,6% van die respondente verkies ’n ANC-MK-koalisie, terwyl 8,9% se eerste keuse ’n koalisie tussen die ANC, EFF en MK sal wees.

Die peiling toon egter dat wanneer tweede keuses in ag geneem word, die pluraliteit ten gunste van ’n ANC-DA-koalisie versterk.

Die betrokke peiling ondersoek die voorkeurkoalisie-samestelling wat Suid-Afrikaners sou wou sien indien die ANC se steun volgende maand tot onder 50% in die komende nasionale verkiesing daal, verduidelik die SRF.

(Grafika: Pieter Cloete/Maroela Media)

Prof. Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, sê ’n koalisie tussen die ANC en die DA is nie onmoontlik nie.

“Hulle het al op plaaslike vlak saamgewerk. Maar nasionaal is dit ’n perd van ’n ander kleur. Dit sal die ANC in staat stel om pres. Cyril Ramaphosa in die presidentskantoor te hou, maar geweldige gevolge vir die DA se koalisievennote inhou,” sê Venter.  “Dit sal die Veelpartyhandves uitmekaar laat spat.”

In só ’n scenario (van ’n ANC-DA-koalisie) is Venter van mening dat die DA nie op enige kabinetsposte sal aandring nie.

Hy vermoed die party sal eerder vra vir die rol van speaker van die Nasionale Vergadering en die voorsitterskap van die onderskeie parlementêre portefeuljekomitees as om op die uitvoerende gesag te dien.

“Want dít is waar die besluite geneem word, wetgewings gemaak word en oorsig en toesig plaasvind … en die DA is op sy sterkste wanneer dit kom by bestuur en regeer,” sê Venter.

Venter sê ’n koalisie tussen die ANC en die EFF óf die MK sal net plaasvind indien die ANC toegee aan die partye se eise en nie vir Ramaphosa herbenoem as president nie.

Kiesers oor die Veelpartyhandves

Die SRF het as deel van sy peiling ook die 1 835 geregistreerde kiesers se persepsies oor die Veelpartyhandves, en spesifiek die vooruitsigte vir sukses, getoets.

Sowat 60% van dié respondente het aangedui dat hulle nie vertroud is met die Veelpartyhandves nie. Die SRF se gevolgtrekking is dat baie min mense van die Veelpartyhandves weet en dié wat wel daarmee vertroud is, is hoofsaaklik middelklas.

(Grafika: Pieter Cloete/Maroela Media)

Venter dink die opname is korrek.

“Maar ’n mens moet ook opnames met ’n knippie sout neem. ’n Opname kan ’n objektiewe meting van mense se persepsies en politieke houding op ’n gegewe tyd wees, maar dit kan ook aan onderskeie partye baie duidelike boodskappe stuur oor waaraan hulle moet werk.

“En hier is een van daardie boodskappe,” sê Venter. “Hulle moet die Veelpartybanier hoër dra.”

Ondanks die lae vertroudheidsvlakke, voorspel die meerderheid kiesers (50,1%) dat die opposisiepartye verbind tot die Veelpartyhandves daarin gaan slaag om die ANC te ontsetel en ’n alternatiewe regering tot stand bring.

Dit terwyl 41,3% van die respondente glo die Veelpartyhandves gaan misluk.

(Grafika: Pieter Cloete/Maroela Media)

Sowat 40% het aangedui dat die groepering heel waarskynlik inmekaar gaan tuimel weens binnegevegte. Een uit elke vyf het aangedui dat dít hoogs onwaarskynlik is.

Sowat 36,3% het aangedui dat die Veelpartyhandves heel waarskynlik goed gaan funksioneer en goeie, skoon regering gaan kan bied.

Sowat 35,5% van respondente glo dat die Veelpartyhandves sal ooreenkom oor ʼn duidelike stel beleide. ʼn Derde (33,1%) sê dit is hoogs onwaarskynlik dat hulle met mekaar sal ooreenstem.

(Grafika: Pieter Cloete/Maroela Media)

Teenstrydighede in data

Die SRF sê dit is ’n interessante verskynsel dat die meerheid glo dat die Veelpartyhandves gaan slaag, maar ook misluk.

“Dit is nie ’n ongewone resultaat in openbare meningspeilings nie en openbaar ’n breër gebrek aan bewustheid en algemene oppervlakkige begrip van die betrokke kwessie,” sê die dinkskrum in sy kommentaar op die data.

Die SRF sê daar is ook die moontlikheid vir politieke akteurs om die openbare mening oor die Veelpartyhandves in verskeie verskillende rigtings te dryf.

“Toe kiesers gevra is of hulle glo dat die betrokke partye van die Veelpartyhandves oor ’n duidelike stel beleide kan saamstem, het dieselfde oënskynlike onmoontlike teenstrydigheid uit die data na vore gekom.”

(Grafika: Pieter Cloete/Maroela Media)

Peiling steun belangrike tendense

Venter meen die SRF se jongste peiling steun vier van die belangrikste tendense op die oomblik.

“Dit steun die tendens dat die ANC se steun daal, dat die DA sy steun van sowat 20% handhaaf, dat die EFF ’n plafon van 10% gaan bereik en dat die opkoms van die MK-party as nuwe rolspeler nie net van verbygaande aard is nie.

“Hierdie is ’n spelbreker wat ’n klomp ander uitkomste in die politiek moontlik maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Ore ·

Of ons saamstem of nie, hierdie is al lankal my standpunt. Die kleiner partye en veral die EFF stel net belang in hul eie agenda, sien bv wie hulle as minister van finansies wil hê en verder ontwrig hulle net. Met die DA daar behoort daar 50% minder korrupsie te wees. Die DA is egeter my bekommernis. Is hulle werklik so arrogant soos die partye hulle noem? DA in Wes Kaap baklei tans net teen een party wat nie eens ‘n bedreiging is nie. Wonder maar net

Aai ·

Michael so jy verkies ANC EFF?Dan is dit die einde van SA nie dat daar veel oor is.

piet ·

Dis dalk nie so ‘n slegte idee nie. Hou die radikales uit. Die ANC is darem relatief gematig.

Carolina ·

Koalisies werk nie as julle nog nie opgemerk het nie . Die DA is net ANC LITE en ek vertou hulle niks!

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat ‘n swak idee. Die ANC sal die DA opslurp en uitspoeg soos die destydse NP. Die ANC en EFF moet mekaar eerder vernietig. Die ANC en DA se beleidrigtings verskil te veel ten opsigte van die ekonomie, grondonteiening en internasionale betrekkinge, maar stem wel ooreen ten opsigte van maatskaplik welsyn, gesondheid, onderwys, BEE en regstellende aksie. Gaan die DA nou skielik pelle word met Hamas, Iran en Rusland? Hier in die Wes-Kaap sal die DA/ANC ons ook oor die afgrond stoot. Dit sal die stryd om afstigting wel kompliseer en meer uitdagend maak.

Zonnebloem ·

Michael, gaan ons ‘n keuse hé?
Ek stem eerder vir ANC / DA koalisie as ANC / EFF of die ergste koalisie EFF / MK!

annie ·

Waarom verkiesing hou. Hierdie is eintlik tog ‘n eenpartystaat want demokrasie is net ‘n woord in die woordeboek. Kyk al die truuks wat die demokrate in die VSA uithaal om ‘n eenpartystaat te bly en dan kla hul oor ander lande. Gelukkig hoef ons ook dan nie vir ure in die koue in toue te gaan staan om net ‘n kruisie te trek nie; lekker voor die tv sit met ‘n glasie port en heerlik lag vir die geveg oor wie die rol van die president sal vertolk in die daaropvolgende opvoerings in die Kaapstadse stadsaal uitgeknip vir sulke spesiale aanbiedinge. Die EFF het reeds die verhoog uitgetoets vir goeie akoestiek en skouspele.

Delia ·

1835 deelgeneem aan die peiling??
En julle laat julle ontstel!!

skurweberg ·

@ Republikein in die Wes Kaap het ‘n paar implikasies van ‘n koalisie tussen die ANC/DA genoem. Sou hierdie opsie werklikheid word is daar baie, baie meer implikasies vir SA. Doen ‘n bietjie navorsing buite die politieke arena om. Daar is soveel dat iemand ‘n ander artikel daaroor sal kan skryf. ‘n Moontlike betroubare geestelike leier.

KB ·

Wragtag nè! Wie “soek” DÍÉ koalisie?! Julle kan darem soms ʼn pot twak kwytraak, genade!

annie ·

Daar wag baaaie meer probleme tydens en ná die patetiese gebeure wat die ANC ‘n demokratiese verkiesing noem. Vir een gaan die kiesers ure langer moet wag om te stem omdat kiesers nie die partye sal kan onderskei nie en omdat hul nie goed kan sien nie en hulp sal benodig. Dalk sal ‘n ekstra dag nodig wees om die toue te voltooi. Ambulanse mag dalk die doodgewagtes moet kom help. En sou die weer nie saamspeel nie… Dan kan heftige besware volg omdat mense kwansuis per ongeluk by die verkeerde party hul kruisies getrek het weens druk en verwarring. Voeg daarby die gewone krisisse wat altyd maar daar is. Besware oor skelmstreke sal volg veral by partye wat op ‘n groter stemtal gehoop het… Ons weet reeds van diesulkes en wat die reaksie sou wees.

Pieter ·

Eerste prys is CancER uit die prent, so ook met al die res wat nie wil saam werk. die Here weet.

Manie ·

Waar dink die DA met sy 20% stemme, gaan die ander 30% +1 vandaan kom om die verkiesing te wen? Definitief nie vanaf sy speelmaats nie. Ek vra gereeld die vraag en niemand kon my nog verduidelik nie.

Martie ·

Ek wonder waar was die peiling gedoen, beslis nie hier rondom ons nie. Maar dankie nee dankie, sal nooit werk nie.

Jasmyn ·

DA-ANC koalisie sal beteken ons gaan voort soos nou in SA, met die ANC steeds aan die stuur. Nee wat, belaglike voorstel. Ek sal ook graag wil weet hoe is dit moontlik dat ANC regoor die land in talle dorpe sulke massiewe verkiesings borde kan oprig. Is dit WETTIG? Kan die DA dan ook asb by elke dorps ingang sulke groot borde oprig…. Dit trek immers meer aandag en kry beslis meer aftrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.