Kiesers sonder bevestigde adresse kan nie provinsiaal stem

Foto: Maroela Media

Kiesers wie se volledige adresse nie op die kieserslys aangebring is nie, sal volgende jaar slegs vir die nasionale parlement kan stem, maar nie op provinsiale vlak nie, het die Verkiesingskommissie (OVK) vandag aangekondig.

Die OVK-ondervoorsitter, Janet Love, het vanoggend in die parlement aan ʼn komitee van die Nasionale Raad van Provinsies gesê die uitspraak van die konstitusionele hof is duidelik. Aan die een kant kan ʼn Suid-Afrikaner nie sy/haar reg om te stem verloor bloot omdat hy/sy nie sy/haar volledige adres opgegee het nie. Aan die ander kant mag Suid-Afrikaners nie stem sonder ʼn geldige adres nie.

Die oplossing is dus dat diegene sonder geldige adresse wel nasionaal mag stem, want dit maak in elk geval nie saak waar jy woon nie, maar verbied sal word om provinsiaal te stem ten einde manipulasie te voorkom.

Kiesers kan nog tot die laaste naweek in Januarie registreer in die stemdistrik waar hulle woon. ʼn Mens kan op enige weekdag van die jaar as kieser registreer by die OVK-kantoor in jou munisipaliteit, en op die laaste Saterdag en Sondag in Januarie is elkeen van die land se 22 612 stempunte oop vir registrasie.

Daarna kondig die president die stemdag aan en dan word die kiesersrol gesluit. Kiesers kan nagaan waar hulle geregistreer is deur hul ID-nommer te SMS na 32810, of deur dit na te gaan op die OVK-webwerf, www.elections.org.za onder die hofie “For voters” en dan te kliek op die skakel “My registration details”.

Die hoofkiesbeampte, Sy Mamabolo, het gesê die OVK is so gereed as moontlik vir volgende jaar se verkiesing. Hierdie verkiesing sal ʼn paar nuutjies bevat, soos verwoord in die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingswette, wat tans voor die parlement dien.

Die wetsontwerp bevat verskeie tegniese wysigings oor byvoorbeeld die aanstel van amptenare en die benoeming van kandidate.

Politieke partye sal voortaan elektronies vir verkiesingsdeelname kan registreer, en die vereistes is bietjie minder stram gemaak.

Dit sal voortaan onwettig wees om die naam en die logo van die OVK sonder dié se uitdruklike toestemming te gebruik. Daar is ook duideliker reëls oor hoe besware teen foute op die kiesersrol hanteer moet word.

ID’s sal voortaan nie meer gestempel word nadat kiesers op stemdag gestem het nie, omdat dit nie moontlik is om te doen met ID-slimkaarte nie.

ʼn Interessante en nodige bepaling is dat die kieshof voortaan uitspraak sal gee wanneer daar ʼn dispuut ontstaan oor wie ʼn spesifieke party se leier is – ʼn probleem wat al in verskeie kleiner partye kop uitgesteek het, en wat die OVK en die parlement ontsettend baie hoofpyne skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

leser ·

maak die stemmery elektronies met vinger afdrukke “scan” biometries

karen ·

wat gaan gebeur met persone wat tussen einde Januarie 2019 en die verkiesing dag buite hulle areas waar hulle nou adres gelys is, verhuis? In daardie geval sou ek voorstel so ‘n peroon kan met bewys van adres (soos elektrisiteitsrekening) tog wel provinsiaal kan stem

koos ·

Ek wil weet wat as jou wyk se grense verander het, dat jy nou in ‘n ander wyk van ‘n munisipale gebied bly? Moet jy in die nuwe wyk gaan registereer?

Nika ·

wat maak mense wat in plakkerskampe bly? hoe bewys hulle die mense woon daar?

Thinus Erasmus ·

Dis die punt, jy moet geregistreer wees, en om dit te kan doen moet jy ‘n addres bewys. As jy vir ‘n bepaalde plek gerigistreer is moet jy vir daardie wyk/streek/provinsie stem, so as jy nie daar is nie, maak vooraf plan vir spesiale stem.
Die wat in informele nedersettings bly, moet dit dan so aandui en dan mag hul ook net daar stem – of by sy regte huis in die platteland as hy daar geregistreer is. (dis mos hoe dit gaan)
As jy verkies om sonder vaste addres te wees (homeless/swerwer) mag jy net nasionaal stem oor en uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.