Kiesers stem vir werk, dienslewering

(Argieffoto: Emmanuel Croset/AFP)

Die meerderheid mense wat vir die ANC stem doen dit omdat hulle glo dié party gaan werk skep, Suid-Afrikaners se lewensgehalte verbeter en dienslewering verbeter. Maatskaplike toelae speel ook ʼn groot rol in mense se besluit om vir ʼn bepaalde party te stem.

Dit is die aanduidings van ʼn ondersoek wat die Sentrum vir Maatskaplike Ontwikkeling in Afrika (CDSA) by net meer as 3 500 mense gedoen het. Navorsers van die Universiteit van Johannesburg (UJ) het ondersoek ingestel watter faktore kiesers se besluite beïnvloed.

Die bevindings van dié ondersoek wys dat Suid-Afrikaners se keuse by die stembus bepaal word deur ʼn reeks faktore, insluitend politieke oortuigings, sosio-ekonomiese uitdagings en die strewe na ʼn beter lewer.

Die vyf topredes waarom mense vir ʼn spesifieke party stem, is omdat hulle glo die party sal werk skep (55%), omdat die party belowe om mense se lewens te verbeter (49%); omdat hulle glo die party dienslewering sal verbeter (48%); omdat die party maatskaplike toelae betaal (44%) en omdat hulle die party vertrou (40%).

Volgens die jongste peilings kan die ANC dalk net 40% van die stemme landwyd op hom verenig, die DA 21,9% en die EFF 11,5%.

Die rol van maatskaplike toelae

(Foto: Lucas Ledwaba/AFP)

Kiesers wat maatskaplike toelae ontvang (47%), is meer geneig om vir die ANC te stem, as dié wat nie toelae ontvang nie (39%). Tog het baie meer Suid-Afrikaners wat toelae ontvang, vanjaar gesê hulle gaan vir opposisiepartye stem (53%). Toe die peiling in 2000 gedoen is, het net 26% van mense wat toelae ontvang, gesê hulle gaan vir die opposisie stem.

Dit kan wees omdat ander partye, soos die DA, hulle nou ook sterk ten gunste van toelae uitspreek.

Die tydelike maatskaplike verligting van noodtoelae (SRD) is in 2020 ingestel en verleng tot Maart 2025. Dit het die getal begunstigdes met tussen 7 miljoen en 10 miljoen mense laat toeneem. Meer volwassenes, jeugdiges en werklose mense word nou by die stelsel ingesluit.

Kiesers se gevoel jeens koalisies

(Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

Kiesers is verdeeld oor die kwessie van ʼn koalisieregering ná die verkiesing. Altesaam 39% van die respondente was nie ten gunste van ʼn nasionale koalisieregering nie en 38% het gesê dit hang af van wie die koalisievennoot is. Slegs 23% het gesê hulle is ten gunste van ʼn nasionale koalisieregering.

ANC-kiesers is skynbaar die meeste negatief teenoor só ʼn regering, met 40% wat nié ʼn koalisie wil hê nie. Wat EFF ondersteuners betref, is 35% van hul ondersteuners gekant teen ʼn koalisieregering en 32,5% van die DA se kiesers wil nie ʼn koalisie op nasionale vlak hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ore ·

Wil iemand nie tog is al die amptelike tale aan kiesers verduidelik dat die regering nie kan werk skep nie. As die ANC kiesers na 30 jaar nog nie kan agterkom dat die ANC nie bevoeg is om dienslewering te vestig nie dan wil ek liewer niks van intelligensievlakke sê nie.

Jack ·

Ek stem saam met Ore.As die mense na 30 jaar steeds glo dat die ANC werk gaan skep is daar iets verkeerd met hulle begrip van die regering.

Papsak ·

Ag asb na 30 jaar kan julle wat so anc stem nie kan sien hulle help julle met niks nie dan weet ek nie maak oop julle oe hulle doen niks vir julle nie die ANC is onbevoeg in alles hulle kan niks skep vir niemand nie

Martie ·

Is 30 jaar dan te min om te kan sien dis ‘n gekkespul wat ons land regeer. Die vorige regering het in 40 jaar ‘n land opgebou uit ellende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.