‘Kieshof moet dispuut tussen De Lille en DA aanhoor’

Patricia de Lille. Foto: Armand Hough/ANA

Die leier van GOOD, Patricia de Lille, én die DA het oorwinnings verklaar nadat die hooggeregshof in Kaapstad vandag beslis het die kieshof is ʼn meer gepaste forum om ʼn dispuut tussen die twee partye te besleg.

Regter Robert Martin het die hof verdaag sonder om ʼn datum te bepaal vir De Lille se aansoek waarin sy vra dat die DA se telebemarkers verbied moet word om te sê dat De Lille as burgemeester van Kaapstad afgedank is.

“Dit is my bevinding dat die mees gepaste plek om al twee kante van die dispuut aan te hoor nie dié hof is nie. Selfs as sou dié hof die eerste gedeelte in die vorm van ʼn appèl aanhoor, kan dit dalk ʼn situasie veroorsaak waar daar twee teenstrydige bevindings oor die saak gemaak word. Dít, as die kieshof ʼn bevinding maak oor die hersieningskwessie. Dit is heeltemal onaanvaarbaar in ons regstelsel,” het die regter bevind.

De Lille voer aan dit is ʼn oorwinning, deurdat die hof bevestig het dat ʼn bevel van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) – dat die DA haar om verskoning moet vra en moet ophou om die teks oor die sogenaamde afdanking te gebruik – steeds geldig is.

“Die hof het vanoggend bevind die OVK is ʼn hoofstuk 9-instelling en sy bevinding bly daarom geldig,” het sy gesê.

Die DA vertolk die uitspraak anders en voer in ʼn verklaring aan sy posisie is in die hof gehandhaaf.

“De Lille het nou al drie keer probeer om ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof te laat aanhoor en al die pogings het misluk,” het Mike Moriarty, die DA se hoofverteenwoordiger by die OVK, gesê.

Die DA en De Lille, die burgemeester wat hy voorgestel het om die Stad Kaapstad in twee munisipale verkiesings te lei, is al vir langer as ʼn jaar in ʼn bitter en baie openbare stryd gewikkel.

De Lille het verlede jaar na verskeie regsgedinge en ongetoetse bewerings dat sy by wanpraktyke betrokke is, bedank. In Desember het sy haar eie party gestig.

Suid-Afrikaners stem op 8 Mei in die nasionale verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cherokee ·

Hoe sê kolla? “Die DA hou hulle nie met beuselagtighede op nie” (maar daar word vergeet van De Lille en die arme Elana Barkhuizen).

John ·

… ongetoetste beweringe… Waarmee ons sit is ‘n komende verkiesing met al die partye wat probeer om die blink kant bo te hou en die stink kant weg te steek. Die DA, soos die ANC, poer-poer met sake met ‘n klankie. Die kommissies van die ANC se stoele is al deurgesig met uithou en aanhou om die regters van die regbank weg te hou totdat 8 Mei verby is. De Lille wil die situasie benut om haarself tot Sint Pat te laat verklaar om hogere parlementére gestoeltes te beset.

Salomé ·

JOHN…jou vlymskerp humor,beskryf die verkiesingssirkus die heel beste ?

Zombie ·

Dit gaan maar oral so:
DA vs GOOD
Orania Beweging vs Orania Bestuur
Grey Kollege (eens spogskool) Beheerliggaam vs Skoolhoof
Ensovoorts.
Eintlik baie hartseer.

Lina Smit ·

Julle kinders moet nou klaar baklei!! Julle is grootmense my genade

AndrewL ·

Daar is net te veel howe en komissies met onbevoegde mense.

Griet ·

Liewe genade tog,aunt pat,gaan aan met jou lewe en nuwe party en word groot toe!
Jy gaan vol plooie en gryshare raak, van al die geskop en gespartel en geskuif van jou politieke loopbaan en verskeie partye !

Boland ·

Ek was onlangs by KKNK en het n gesprek bygewoon waar De Lille betrokke was.Ek verstaan nou hoekom die DA nie met haar kon aangaan nie.Voor die kameras kom sy anders voor as van die verhoog af.My respek vir haar verloor.

Party ·

Vir a lekker party lyk dinge nie te good nie. Ons bly mos in cape of good hope. Wat Dan nou fout met good party?

Johanna Botha ·

Ag STOP nou met die hele storie al SO moeg vir die ou storie !

Annie Webb ·

Die enigste “good” aan Patricia de Lille is goodbye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.