Kiesuitslae Donderdag verwag

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verwag om teen Dinsdagaand reeds 90% van die stemme vir die 2021- munisipale verkiesing getel te hê.

ʼn Verdere 24 uur sal waarskynlik nodig wees om die oorblywende 10% van stemme te tel.

Die OVK verwag om die finale uitslae teen Donderdag bekend te maak, het Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, Dinsdag by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria gesê.

Altesame 27% van stemme was teen laatoggend reeds getel. Die Noord-Kaap is in die stadium voor met 74% van stemme reeds getel, gevolg deur die Wes-Kaap (46%) en die Vrystaat (26%).

Mamabolo kon nog nie sê watter persentasie van kiesers op die ou einde gestem het nie, maar syfers tot dusver dui daarop dat minstens 12 miljoen kiesers (omtrent 46%) gestem het.

Die OVK het toegegee dit is minder as die getal wat hulle verwag het aan die verkiesing gaan deelneem.

Die OVK moes vanoggend bontstaan met vrae van verslaggewers by die uitslagsentrum. Die kommissie is veral gekap oor sy skynbare gebrek aan gereedheid om die verkiesing te hou, sowel as sy implementering van die nuwe kieserbestuurtoestel (voter management device).

Argieffoto van Sy Mamabolo. (Foto: Twitter via @GovernmentZA)

Dié nuwe toestelle word gebruik vir kiesersregistrasie, kontrolering van die kieserslys, stembriefopsporing, stemlokaalmonitering en as ’n sakrekenaar wanneer stemme getel word. Dit het egter ook verskeie tegniese uitdagings by stemlokale ingehou.

Maroela Media het ook talle klagtes ontvang van kiesers wat geregistreer het, maar nie op die betrokke stemlokaal se kieserslys verskyn het nie. Een só ʼn leser het gesê sy het herregistreer nadat sy van Bloemfontein na Kaapstad getrek het. Sy het herhaaldelik met die OVK opgevolg of sy wel korrek geregistreer is om in Kaapstad te stem, maar is gister weggewys aangesien haar naam nie op die kiesersrol verskyn het nie.

Mamabolo is egter optimisties oor die gebruik van dié toestelle en meen dit gaan verkiesings in die toekoms vergemaklik.

Mamabolo moes ook vrae beantwoord oor die tekort aan stembriewe by sommige stemlokale.

Volgens hom is daar geen rede waarom te min stembriewe beskikbaar was nie aangesien genoeg gedruk is. Mamabolo vermoed dat die fout by die verspreiding van die stembriewe ingeglip het toe sommige beamptes te min stembriewe na die stemlokale geneem het.

“Ons is spyt daaroor en dit moes nie gebeur het nie.

“Was ons reg [vir die verkiesing]? Ons wás reg. Ons het onder geweldige druk verkeer. Daar is geen twyfel daaraan nie, maar ons was eindelik reg om ’n verkiesing te laat plaasvind.”

Janet Love, ondervoorsitter van die OVK, het dit beaam. “Ons het goed onder druk gevaar.”

Beurtkrag tydens stemtellery

Mamabolo het voorts gesê die OVK het kennis geneem van Eskom se aankondiging dat beurtkrag moontlik geïmplementeer kan word en is in gesprek met die kragvoorsiener om te verseker dat dit nie die stemtellery beïnvloed nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek sien die Kaap bly darem voorlopig BLOU. Is nou nie GROEN soos ek wou gehad het nie, maar dis darem beter as geel.

Papsak ·

Ja o kyk hoeveel skelm streke gaan ou weer met tellery van stemme voort kom want daarom word beloadshedding kastig in gestel vir hulle om te konkkel asb pluk by

SwartBees ·

Hierdie ouens kan nie eers n suip sessie binne in n bottel stoor reel nie. Wat nou nog van n verkiesing!

Karina ·

SwartBees, jy het my nou lekker laat lag. As ek kon het ek vir jou ‘n Bells gegee! Beste beskrywing van die ‘goewerment’ en OVK wat ek nog gehoor het!

Samuel ·

Die OVK is onbevoeg om enigiets te reël. Hier in my straat het man en vrou by stemlokaal opdaag waar hulle al jarelank stem, is die man gesê hy mag hier stem, maar sy vrou in ‘n totaal ander gebied; ‘n informele nedersetting!! Bid jou dit aan. En hulle is net jammer? Hoe vry en regverdig gaan hierdie verkiesing tog wees? Absolute skande. Wie is te danke? ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.