Kieswet-uitspraak: Soet en suur vir onafhanklike kandidate

(Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

Die Onafhanklike Kandidate-vereniging se aansoek om die gewysigde Kieswet ongrondwetlik te laat verklaar, is Maandag deur die Konstitusionele Hof van die hand gewys.

Dié hofuitspraak volg nadat die vereniging hom vroeër tot die hof gewend het omdat die gewysigde Kieswet volgens hom onafhanklike kandidate se deelname aan die verkiesing en hul kans om ʼn setel in die parlement te kry, onregverdig beperk vergelyke met ander politieke partye se kandidate.

Ingevolge dié wetgewing is daar ʼn 200-200-verdeling van setels. Onafhanklike kandidate mag om 200 van die sogenaamde streeksetels in die Nasionale Vergadering meeding. Politieke partye mag ook om dié setels meeding, sowel as die 200 kompenserende setels. Die applikante was van mening dat dié verdeling onregverdig is, omdat dit die speelveld ongelyk maak.

Regter Nonkosi Mhlantla, wat die uitspraak voorgelees het, sê die land se hoogste hof het egter bevind dat die 200-200-verdeling van setels nie ongrondwetlik is nie.

Volgens die regters kon die applikante nie bewys dat dié verdeling irrasioneel is en enige regte ingevolge die Handves van Regte skend nie.

Die regters was eenparig daaroor dat die omstandighede van die saak buitengewoon is, en ʼn belangrike kwessie oor die regverdigheid van die 2024-verkiesing opper.

Bietjie soet vir onafhanklike kandidate

Die hof het wel ten gunste van onafhanklike kandidate uitspraak gelewer wat die aantal handtekeninge betref wat dié kandidate nodig het om by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) te registreer en aan die verkiesing deel te neem. Dié aansoek is deur Mmusi Maimane se Build One SA (Bosa) gebring.

Die gewysigde Kieswet het bepaal dat onafhanklike kandidate tussen 11 000 en 14 000 handtekeninge van geregistreerde kiesers moes verkry om aan die verkiesing deel te neem, terwyl politieke partye slegs ʼn duisend handtekeninge benodig het.

Die hof het egter in dié saak bevind dat onafhanklike kandidate voortaan ook net ʼn duisend handtekeninge nodig het om by die OVK te registreer.

Die parlement het twee jaar om die wysigings hieroor aan te bring.

Uitspraak verwelkom

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die uitspraak in die Onafhanklike Kandidate-vereniging se saak verwelkom.

Groenewald sê dit bring sekerheid oor die feit dat die verkiesing wel sal plaasvind.

“Die verkiesingskommissie het reeds sy beplanning vir die verkiesing gemik op 22 Mei 2024. Hy kan nou daarmee voortgaan.”

Werner Horn, die DA se nasionale woordvoerder, het in die lig van die uitspraak teen Onafhanklike Kandidate-vereniging versoek dat die OVK die aankondiging oor die volgende registrasienaweek bespoedig.

“Die OVK word ook versoek om sy besprekings met die president oor die verkiesingsdatum af te handel en ʼn formele datum aan te kondig,” het Horn gesê.

Die DA doen ook ʼn beroep op die OVK om die stemproses vir Suid-Afrikaners in die buiteland aktief te fasiliteer en seker te maak dat die aanlyn registrasieportaal ten volle funksioneel is.

“Om ʼn vlot en toeganklike proses vir alle stemgeregtigde kiesers moontlik te maak, insluitend diegene wat in die buiteland woon, is fundamenteel tot die demokratiese integriteit van ons kiesstelsel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

So beteken dit nou dat enige Jan Rap en sy waat wat 1000 handtekeninge kry hom verkiesbaar kan stel, of is daar nog geld ook betrokke?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.