Kilian bly tot ná Nuwejaar agter tralies

Zane Kilian tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Armand Hough/African News Agency(ANA)

ʼn Sigbaar moedelose Zane Kilian het vandag vlugtig in die Bellville-streekhof verskyn om te hoor sy borgtogaansoek is tot 2 Februarie volgende jaar uitgestel. Die hoofstaatsaanklaer, adv. Greg Wolmarans, is weereens in isolasie nadat hy in kontak was met iemand wat positief vir Covid-19 getoets het.

“Die staat kon ongelukkig nie met hulle verklaring voortgaan nie en die saak is tot die vroegste moontlike datum volgende jaar uitgestel,” het Eric Bryer, opdraggewende prokureur in Kilian se regspan, buite die hof gesê. “Intussen bly ons arme kliënt vir die volgende vyf weke in aanhouding.”

Eric Bryer. Foto: Eunice Stoltz

Volgens Bryer is daar ook geen nut daarin om ʼn dringende borgtogaansoek by die hooggeregshof in te dien nie omdat Kilian se aansoek om borgtog reeds in die streekhof begin het.

Kilian se regspan het vandag egter steeds voortgegaan om Kilian se beëdigde verklaring aan die hof voor te hou. Kilian is die enigste verdagte wat in hegtenis geneem is vir die sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear op 18 September in Bishop Lavis, Kaapstad. Kilian word in die Bellville-streekhof aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en die onregmatige onderskep van kommunikasie.

Zane Kilian tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Armand Hough/African News Agency(ANA)

Kilian se algemene redes vir borgtog sluit in dat hy aan bipolêre depressie ly, hy ʼn vaste woonadres in Springs in Gauteng het en hy maandeliks ʼn inkomste van R20 000 verdien. Hiermee sorg hy vir sy vrou en twee kinders, van wie een ʼn stiefkind is. Volgens hom het sy seun spesiale behoeftes aangesien hy outisties en serebraal gestremd is. Sy seun het glo weens sy afwesigheid al verskeie ineenstortings gehad en hy het ʼn mediese sertifikaat as bewys hiervoor ingedien.

Kilian voer verder aan dat hy nie ʼn voortvlugtige is nie en dat sy vrylating op borgtog ook nie sy lewe in gevaar stel nie omdat hy aan niemand verbind is wat by saak betrek word nie. Kilian het aangedui dat hy ʼn bedrag van R5 000 vir borgtog kan opdok.

In die verklaring bevestig Kilian dat hy oor die sagteware beskik om ʼn selfoon na te spoor. Dit word vanaf sy selfoon op ʼn platform gedoen met behulp van ʼn unieke kode. Volgens hom gebruik hy dié metode om voertuie met agterstallige paaiemente na te spoor en terug te neem.

Wyle lt.kol Kinnear se weduwee Nicolette, kom by die hof aan. Foto: Eunice Stoltz

In sy beëdigde verklaring impliseer Kilian die oudpolisieman Bradley Goldblatt as ʼn persoon van belang met betrekking tot die nasporing van selfoonseine. Volgens Kilian het hy sy sagteware en kodes by Goldblatt gekoop. Kilian meen dat dié sagteware en kode wat Goldblatt aan hom verskaf het nie eksklusief aan hom uitgereik is nie en dat ander individue ook daartoe toegang gehad het.

Hiervolgens meen Kilian die enigste feit wat hom met Kinnear se moord verbind is die aantyging dat hy die selfoon van die slagoffer nagespoor het met die doel om hom op te spoor.

Sy regspan het ook al vroeër bewyse ingedien wat Kilian nie op die dag van die moord op, of naby, die moordtoneel plaas nie. Kringtelevisiebeeldmateriaal wys dat Kilian op die middag van die moord in ’n apteek in Springs was om medikasie te koop.

Wyle lt.kol. Kinnear se weduwee, Nicolette, en hulle twee seuns het na afloop van die hofverrigtinge onder swaar polisiebegeleiding by die hof aangekom om terugvoer oor die saak te ontvang.

Kilian verskyn weer op 21 Januarie in die Kaapstad-landdroshof in die ondersoek na die skietvoorval op die Kaapse prokureur William Booth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Hoe vorder die saak in die opsporing van die opdraggewer en persoon wat die skietwerk gedoen het?

Casper ·

As Killian in ‘n apteek was die middag op die dag van die moord hoe kon hy die sneller getrek het.Wie het op die prokureur geskiet.Dan het hy mos ‘n waterdigte alibi.Die ondersoekbeampte moes net sy woonsdres bevestig het dan kon borg toegestaan word aan hom.Daar is wel buitengewone omstandighede wat borg regverdig.Ek kry die idee hulle straf hom om nie borg toe te staan nie.

Moedeloos ·

Ek stem saam met jou Casper. Iewers is iets nie lekker nie. Hoekom die man straf as die aanklaer nie sy plig kan nakom nie. Is daar nie ander aanklaers nie.

Die Wolf ·

Die identifikasie op die beeldkring is dit 100% wel hy. Klink vir my hulle straf hom want hulle kan.

Francois Le Cochon ·

Shame, arme man. Ek kry hom jammer. Hoop hy gaan lank agter tralies sit. Hy is lyk my een van die groot rampokker figure in SA

Keelvol ·

Dis belaglik hoe mense skielik die Killian bejammer en glo hy’s onskuldig.

Elsabe ·

Een verdagte agter tralies. Ander verdagtes met waarskuwing vrygelaat. WTH?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.