Kilian ‘depressief, angstig’

Zane Kilian. (Foto: Twitter)

Zane Kilian (39), wat in hegtenis geneem is in verband met die sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear, bly agter tralies.

Dit is nou 66 dae sedert sy inhegtenisneming op 23 September vanjaar.

Geen ander verdagte is tot dusver vir die moord op Kinnear in hegtenis geneem nie.

Kinnear is op 18 September helder oordag buite sy huis in Bishop Lavis, Kaapstad, deur ʼn onbekende verdagte doodgeskiet.

Kilian se aansoek om borgtog sou vandag in die Bellville-streekhof aangehoor word, maar is tot Dinsdag uitgestel. Dít nadat Kilian se regspan vanoggend ʼn beëdigde verklaring ingehandig het wat redes aanvoer waarom Kilian aansoek om borgtog doen.

Eric Bryer, Kilian se regsverteenwoordiger, sê die hof het die verklaring aanvaar.

“Die staat het vir uitstel gevra om die feite van die beëdigde verklaring te oorweeg sodat hulle dit kan teenstaan.”

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê die staat sal Dinsdag op die verklaring reageer.

Adv. Johan van Aswegen, wat in adv. Eckhard Rosemann se plek aangestel is soos voorheen berig, het ná die hofverrigtinge gesê Kilian is angstig om vrygelaat te word, maar hulle “hou by die reëls”.

Bryer het buite die hof vrae beantwoord.

“Hy is reeds 66 dae in aanhouding en depressief, maar ongelukkig moet ons die reg sy gang laat gaan; hopelik beweeg dit en staan nie stil nie, sodat ons so gou moontlik ʼn uitslag kan kry.”

Kilian word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en die onregmatige onderskep van kommunikasie.

Hy word ook betrek by die skietvoorval op die Kaapse prokureur William Booth in April vanjaar.

In hierdie saak staan Kilian onder meer tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, oortredings van die Wet op Georganiseerde Misdaad en die onwettige onderskepping van kommunikasie.

Vir dié saak verskyn hy Maandag weer in die Kaapstadse landdroshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Ek probeer verstaan wat maak iemand by moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en die onregmatige onderskep van kommunikasie betrokke raak? Was hy tonne geld belowe, of iets nog beter? Die man was eens op ‘n tyd ‘n goeie en uitstaande lid van die samelewing, en het selfs top rugby gespeel. It boggels the mind.

Casper ·

Van wie kry hy sy opdragte?Daar sit meer agter hierdie aanvalle maar ek dink hy kry groot geld om iemand anders se vuilwerk te doen.You do the crime you do the time.Geen simpatie nie.

Jr ·

There’s more to this . Merk my woorde. Beter om te bly waar jy is . ” Hulle sal jou uithaal as u buite is

Rentia ·

Nou hoe anders wil jy voel as jy teregstaan op koelbloedige moord? Ek kan nogal dink die trok is ‘n depressiewe plek…

Hennie ·

Snaaks hoe kwesbaar vir siektes en aandoenings skelms in die tronk raak. Enigiets om in die hospitaal afdeling te gaan lê. Vat jou pak soos ‘n man ou seun….

Anders ·

Dat hy ‘n pion is, is duidelik. Sy spesifieke vaardighede was benodig. Dit kom blykbaar al ‘n ver pad, vanaf ten minste die aanslag op Adv Booth. Maar hoe het die skermunkels op hom afgekom? Het hul die vaardighede gesoek op die internet? Hoe kon hul weet dat hul hom kon vertrou? Met hom aan die hoek, moet daar sekerlik maniere wees om nog meer te kan inkatrol? Watter inligting is op sy rekenaar?
Hy moes tog met ander gepraat het?

christo ·

Bendes in die Kaap is gewetenloos. Ek dink as daar diep gekrap word, is dit nie die enigste onderskepping waar by hy betrokke is nie. Opposisie word nie geduld nie.

Jakes ·

Die oubgesegde dat spyt kom te laat is hier van toepassing. Ek voel jammer vir die man maar indien hy betrokke was het hy sy lewe verwoes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.