Kilian in hof oor skietery op Kaapse prokureur

Zane Kilian het onder streng polisiebegeleiding by die landdroshof in Kaapstad aangekom. Foto: Eunice Stoltz

Zane Kilian is Dinsdagoggend onder streng polisiebegeleiding in die Kaapstadse landdroshof ingeneem waar hy op vyf aanklagte verskyn het in verband met die skietery op die bekende prokureur William Booth.

Kilian, wat aanvanklik in verband met die sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear in hegtenis geneem is, word ook nou by die aanval op Booth betrek. Hy is die sesde verdagte in dié saak en het saam met Kauthar Brown, Ebrahim Deare, Riyaad Gesant, Kim Smith en Igsaan Williams in die hof verskyn.

Zane Kilian staan tereg op drie aanklagte, onder meer ook moord. (Foto: Twitter)

Die staat het vyf aanklagte teen Kilian aanhangig gemaak, insluitend sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die onwettige onderskepping van kommunikasie, toegang tot en onderskepping van data en een bendeverwante klag.

Die saak is tot 10 November uitgestel.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê indien Kilian se regspan ʼn borgtogaansoek wil bring, sal die staat dit teenstaan.

Kilian is die enigste verdagte wat tot dusver in hegtenis geneem is vir die moord op Kinnear op 18 September buite sy huis in Bishop Lavis, Kaapstad.

Eric Ntabazalila. Foto: Eunice Stoltz

In dié saak word Kilian aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg asook die onregmatige onderskep van kommunikasie. Hy verskyn weer op 27 November in die Bellville-streekhof wanneer hy om borgtog sal aansoek doen.

Intussen sal Kilian nadat hy langer as ʼn maand by die Bellville-polisiestasie in aanhouding was, na die Goodwood-gevangenis oorgeplaas word.

Kilian se regspan het glo ook nou bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel. Eric Bryer, opdraggewende prokureur van Kilian, het ʼn tweede agtereenvolgende dag met twee lyfwagte by die hof opgedaag. Bryer het op navraag aan die media verduidelik dat daar sowat 10 dae gelede ʼn moontlike aanslag op sy lewe was toe twee gewapende mans in die oprit van sy huis opgemerk is. Hy kon egter nie bevestig of hy die teiken was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
ES

Gooi ‘n man darem maar net so sy lewe weg… en die die storie draai al dieper. Lyk vir my asof Zane van die begin af al nie ‘n lekker etiese mens was nie.

Piet

Lyk my hier’s ‘n hele mafia-bedryf aan die gang in SA wat oor provinsiale grense strek. Ek wonder wie’s die “Capo di tuttu capi”

Janine

Hierdie hele storie stink! Waar is die ondersoek na polisielede wat deur die oorledene ondersoek is? Hierdie lyk meer soos ‘n ‘scapegoat’ vir die eintlike skuldiges.