Kimberley-brande ‘voorlopig’ onder beheer

Die reuseveldbrande wat sedert Saterdag in die Kimberley-omgewing in die Noord-Kaap woed, het reeds na raming sowat 100 000 ha verwoes. (Foto: Facebook / Emer-G-Med)

Die reuseveldbrande wat sedert Saterdag in die Kimberley-omgewing in die Noord-Kaap woed, het reeds na raming sowat 100 000 ha verwoes.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê hierdie syfer kan egter styg aangesien die totale omvang van die skade wat deur dié brande aangerig is, nog nie bepaal kon word nie.

Die oorsaak van die brande, wat sowat 50 km uit mekaar by Hopetown en Kimberley gewoed het, is ook nog nie bekend nie, hoewel brandstigting of nalatigheid nie in dié stadium uitgesluit kan word nie.

Jansen sê die brande was teen Dinsdag “redelik onder beheer”, maar dat warm weerstoestande ʼn gunstige omgewing vir nog wegholveldbrande skep.

Dus bestaan die risiko dat brande wat Maandag geblus is, weer kan opvlam.

“Grondeienaars baklei tans hul harte uit. Tussen vandag [Dinsdag] en môre [Woensdag] is daar egter nog  ʼn groot brandrisiko.

“Ons weet gelukkig dat die weer Woensdagmiddag draai. Lugvog sal na verwagting verhoog en daar is ook ʼn moontlikheid vir reën, wat verdere verligting sal bring,” sê Johann “Savage” Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatse Sambreelbrandvereniging.

Die vereniging het oor die afgelope paar dae gehelp om inligting oor die brande te koördineer en versprei.

Maroela Media het berig dat groot dele van die land na verwagting dié week reën gaan kry.

Groot skade reeds aangerig

Volgens Jansen is omvangryke skade aan veral natuurlike weiding en infrastruktuur soos drade, pale, veesuipings en watervoorsiening aangerig.

“Ons weet in dié stadium nog nie wat die impak van veeverliese is nie, aangesien boere die afgelope paar dae net gespook het om die vure onder beheer te kry.

“Die volgende stap is om al hul diere bymekaar te maak en tel om te bepaal hoeveel dood of beseer is. Daar is tans ʼn onmiddellike behoefte aan weiding.”

Die dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kimberley het motoriste Dinsdag op hulle Facebook-blad gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hulle die R357-, N8- en N12-roete na en van Kimberley gebruik, aangesien talle diere verwilderd rondhardloop.

Die DBV het ook versoek indien iemand ʼn beseerde dier teëkom, dat hulle dit by dié organisasie moet aanmeld.

Om landbougemeenskappe by te staan het Agri Noord-Kaap intussen ook ʼn hulpfonds op die been gebring om met die herstel van infrastruktuur te help.

Jansen sê die hele provinsie het oor die afgelope ruk swaar getrek weens veldbrande.

“Die jongste skade bring die verwoesting wat oor die afgelope twee maande deur brande in die Noord-Kaap veroorsaak is, op sowat 410 000 ha te staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Sò hartseer. Kon die Regering nie maar die 100de brandbestryders wat oorsee gestuur was ook in sulke gevalle in ons land gebruik om te help nie.

Rooikoos

Natuurlik weet ons waar die brande, wat amper weekliks gebeur deesdae, vandaan kom.

Kanjynoumeer

Veldbrande ‘ekonomiese sabotasie’ van landbousektor.

Diline

Ja nee, die brande wat orals uitbreek kan nie almal “toevallig” gebeur het nie. Daar was nog nooit in die geskiedenis van hierdie land SO baie agtereenvolgende brande nie. Dink ons almal weet wat en wie verantwoordelik is hiervoor.

Anel

Verskroeide aarde beleid word weer strategies toegepas. En wie moet geblameer word?