Kimberley-plaasaanval: Vrou ook vas

Piet en Rikkie. Foto: Facebook

ʼn Vrou is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere in verband met die wrede aanval op die bekende Kimberliet, Piet Els, en sy lewensmaat, Magrietha “Rikkie” Alsemgeest.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het gesê die 27-jarige vrou is omstreeks 23:00 Woensdagaand in hegtenis geneem by ʼn huis in Galeshewe. “Die polisie het ʼn muntversameling, juweliersware en motorsleutels wat glo aan die slagoffers behoort in haar besit gevind.”

Volgens Kock sal die verdagte Maandag in die Kimberley-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die ander drie verdagtes wat reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem is sal intussen weer op 22 Februarie in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Die vorige drie verdagtes is onderskeidelik op 7 Februarie, 31 Januarie en 29 Januarie in hegtenis geneem. Die drie staan onder meer tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Maroela Media het vroeër berig Els en Alsemgeest is op 23 Januarie op hul plaas sowat 10 km buite Kimberley aangeval. Vier aanvallers het die paar gedreig en aangerand voordat hulle hul hande en voete vasgebind het.

Die verdagtes het die kluis met ʼn hoeksnyer oopgesny en met ʼn groot hoeveelheid waardevolle items, ʼn jaggeweer en ʼn wit Mercedes-Benz op die vlug geslaan. Die voertuig is later verlate op die R31 naby Phutanang buite Kimberley opgespoor.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het vroeër aan Maroela Media gesê Els en Alsemgeest is glo vir ure aangerand en gemartel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Verward ·

Die opskrif laat dit klink of sy vrou vas is. Maar ‘n vrou is vas. Eers as jy die artikel lees maak dit sin.

Johan. H. ·

Puik werk Saps,,, Nou moet daaie Regtertjie net sy of haat werk doen,,, Onthou nie minder as 14 jaar nie hoor,,,,,, Kyk na die doodskis sakie,, aseblieffies hoor!!,

mc ·

Lyk vir my die Kimberley Polisie se werk is beslis nog hulle trots. Welgedaan. Doen so voort.

Siek en sat ·

Sy was seker die huishulp wat die inligting oor die inhoud van die huis verkondig het. Tien teen een saamgewerk met die kriminele.

Antjie ·

Deur nie die moordenaar(s) uit te wys nie, maak hulle hulself nie net medepligtig nie, maar mede-skuldig aan poging tot moord!

PJC ·

Miskien kan iemand vir ons sê hoe dit met Piet Els en sy lewensmaat gaan.

Hoeditgaan ·

PJC, Piet is steeds in die intensiewe eenheid van die hospitaal. Rikkie is darem Al ontslaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.