ʼn Sesjarige dogtertjie is gewond toe sy glo deur ʼn dwaalkoeël getref is tydens ʼn skietvoorval in Centurion waartydens ʼn 27-jarige man vermoor is.
Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het Dinsdagaand in Olievenhoutbosch plaasgevind.
“Die polisie is kort ná 19:00 na die hoek van Kiaat- en Wild Peachstraat ontbied nadat ʼn skietery ontstaan het,” het Moloto gesê. “By hul aankoms het hulle die 27-jarige slagoffer met koeëlwonde aan sy bolyf aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.”
Volgens Moloto is die polisie daarna ingelig dat ʼn sesjarige meisie na bewering deur ʼn dwaalkoeël in haar regterbeen getref is. Sy was toe reeds na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Die Olievenhoutbosch-polisie ondersoek ʼn saak van moord en poging tot moord. Die motief vir die skietery is nie bekend nie. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.