Kind in hittige son in kar gelos; ouers gewaarsku

Foto: Pixabay

Nooddienste het dié naweek ʼn waarskuwing aan ouers landwyd gerig om nié hul kinders of troeteldiere in die motor te los wanneer hulle inkopies doen nie.

Dit volg nadat paramedici Saterdag na ʼn kleinhandelsentrum in Roodepoort in Gauteng ontbied is nadat ʼn driejarige kind in die hittige son gelos is terwyl die ouers vir sowat een uur in die sentrum was.

Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, sê ʼn paramedikus wat glo van diens af was, het die kind in die motor hoor huil en toe die nooddienste en die polisie na die toneel ontbied.

“Die motor was baie warm binne wat veroorsaak het dat die kind uitermatig sweet weens die hitte en daarom ook begin huil het. Paramedici het die driejarige ondersoek en hom aan sy ouers terugbesorg,” sê hy.

Volgens Vermaak het die ouers aan die polisie gesê dat hulle die kind binne die motor gelos het omdat hy geslaap het met hul aankoms by die sentrum.

“Kinders se liggaamsoppervlak verskil aansienlik van dié van volwassenes. Hul liggaamsregulering is nie so doeltreffend soos ʼn gesonde volwassene sʼn nie. Kinders kan baie skade ly wanneer hulle in ʼn warm motor gelos word wat onder meer breinskade kan insluit. Uitermatige hitte kan selfs ʼn beroerte of hitte-uitputting veroorsaak wat eindelik tot die dood kan lei.”

Vermaak sê ouers moet onthou dat ʼn motor “soos ʼn oond word” wanneer dit in direkte sonlig staan.

Nooddienste waarsku teen die volgende:

  • Ouers moet hul kinders of troeteldiere in geen omstandighede in ʼn motor los nie – selfs nie al is ʼn venster oop nie.
  • Maak seker dat jou kinders uit die motor is en nié per ongeluk aan die slaap geraak het nie voordat jy die motor verlaat.
  • As jy ʼn kind in ʼn voertuig sien, probeer onmiddellik die ouers of die eienaar van die voertuig opspoor of nader die polisie by 10111 en die nooddienste by 084124.
  • Kinders wat ʼn tyd lank in ʼn motor vasgekeer was, moet deur mediese kenners ondersoek word om te kyk of daar enige tekens van hitte-uitputting of ʼn beroerte is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Annie ·

Hierdie tipe goed maak my briesend!!! Ek het 5 kleinseuns (tussen 7maande en 10 jaar), en menigmale moet ek met almal dorp toe gaan. Al slaap hulle sit ek hulle in ñ trollie of maak hulle wakker, maar hulle sal nie in die kar vir my sit en wag nie. In die eerste plek is dit gevaarlik in vandag se dae tov skelm en tweedens die onsaglike hitte. Mense is onverantwoordelik met dit waarmee God ons vertrou.

Liefie ·

Ek kan verstaan as kinders op pad na n sentrum aan die slaap raak. Ek het self drie kinders. Wat my verstand te bowe gaan ia hoekom een van die ouers nie by hom in die kar kon sit met die verkoeler aan totdat hy klaar geslaap het nie. Dit is vir my verstommend hoe “ouers” aan mekaar vas geplak is en altwee in die sentrum MOES ingaan en die arme klein ding in die kar alleen los. Hulle verskoning is alles behalwe aanvaarbaar. Net soos wat n verskoning is oor n troeteldier in die kar as jy weet jy gaan winkels toe. Party mense se IK moet regtig getoets word.

Jenine ·

Stem saam een kon wag. Verstaan nie hoe hulle geredeneer het nie. N Kind wat alleen wakker word gaan skree. Belaglik

Chris Ws ·

Weet mense met kleintjies wat word bedoel word met “hitte uitputting” ? Dit vind plaas waneer jou brein letterlik kook.Sou mens dit opdoen en bly leef is jy dus ‘n koolkop vir die res van jou lewe.

Cherokee ·

Jy oordryf Chris. Ek sal Engelse terme gebruik en sê dat a heat stroke can be much more serious that heat exhaustion. Alhoewel die eerste ook baie ernstig kan wees is dink jy klaarblyklik aan die tweede.

LB S ·

‘n Uur lank in die motor gelos. Ek kan nie GLO dat hulle nie gearresteer is nie!

Penellope Jones ·

Ek het nooit my kinders in die motor gelaat nie, onder geen omstandighede nie.
Dis vir alle moontlike redes gevaarlik en onaanvaarbaar!!

Rox ·

Ek haal my kind uit! Of hy nou slaap of nie. Nee magtig man sulke mense maak my woedend. Ek los nie eens my kind in die kar as ek reg voor ‘n kafee stop nie. Doen die moeite en kyk na julle kinders.

Heleen ·

Hierdie behoort ‘n klag van poging tot moord, kindermishandeling te wees! Ek weet van ‘n ginekoloog wat haar tweeling babas in die voertuig gelos het terwyl sy in teater operasie gedoen het!!

PJC ·

Ek dink nie hierdie kind moes summier aan die ouers terugbesorg word sonder die nodige ondersoek nie. Watter waarborg is daar dat hulle nie weer die kind sal verwaarloos nie.

S ·

beste van alles is hulle besorg die kind terug aan die ouers dis dan WET dat jy nie n kind in n kar mag alleen los op daai ouderdom nie ,hulle gan dit net weer doen en dan gan daai kind iets oorkom ???????????

Mads ·

Ek werk vir ‘n groep wat winkelsentrums bestuur. Desember 2016 het die karwagte ons geroep vir ‘n baba wat al meer as ‘n uur, op ‘n snikhete dag in ‘n motor gelos is. Die kind was nog warm aangetrek ook. Nadat bystanders die ruit motor oopgekry het, en ons die polisie gekontak het, het die ouers non – chalant daar opgedaag. Alle omstander was ontsteld maar die ouers glad nie. Die polisie het die kind teruggegee vir die ouers en gery. Die ouers het in die motor geklim vir die omstanders gelag en gery. Nou vra ek jou? Watter doel dien dit om die polisie te kontak?

Erich ·

Hoekom is die ouers nie aangekla van roekelose optrede of kinder verwaarlosing nie?

Katryn ·

Ek was ‘n speurder en ek sal niemand soek of ontbied nie. Ek sal jou venster stukkend slaan, al moet ek dit met ‘n baksteen doen. En jy kan my maar probeer dagvaar vir jou skade. In ‘n hittegolf van meer as 36 grade? Really.

Hannelie ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie…..en hul noem hulself ouers??? Hulle moet beboet en toegesluit word.

bgj van der westhuizen ·

wel miskien moet daar n et wet gemaak word dat alle mense wat kinders kry oplieding moet ondegaan om kinders groot te maak wand dit lyk my ons mense is besig om dom te raak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.