Kind kritiek, jong man vermis toe see hulle meesleur

Die Strand (Foto: NSRI)

’n Negejarige kind is in ’n kritieke toestand en ’n 19-jarige word vermis nadat hulle Donderdag in die see by die Strand in die Wes-Kaap in die moeilikheid beland het.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Gordonsbaai is hul span die middag omstreeks 16:00 na die Strand ontbied nadat ooggetuies glo ’n moontlike verdrinking gewaar het.

Die Stad Kaapstad se lewensredders is ook ontbied en het ’n reddingsoperasie van stapel gestuur.

Benewens die NSRI Gordonsbaai se twee seereddingsvaartuie en reddingswemmers het die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, verskeie ambulansdienste, die polisie, die Strand se buurtwag en die EMS/AMS Skymed-reddingshelikopter gereageer om by die reddingsoperasie aan te sluit.

Die negejarige meisie van Mfuleni en haar 16-jarige familielid het in die see in die moeilikheid beland en ’n 19-jarige familielid, wat ook klaarblyklik reeds in die water was, het die twee meisies probeer help. Hy het glo ook self in die moeilikheid beland en onder die water verdwyn.

Lewensredders het daarin geslaag om die kind en die tienermeisie te red. Hulle het kunsmatige asemhaling op die kind, wat in ’n kritieke toestand was, toegepas waarna sy per ambulans na ʼn plaaslike hospitaal vervoer is. Sy is later met die Skymed-helikopter na ʼn hospitaal in Kaapstad vervoer.

“Ons het verneem dat die kind steeds in ’n kritieke toestand is,” sê die NSRI.

Die reddingspan is steeds besig om die 19-jarige familielid te soek. ’n Polisie-duikeenheid is ook intussen ingekry om met die soektog te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Plaaskind ·

Die see is niemand se speelmaat nie. Hy vat wat hy wil en gee terug wat hy wil. Jammer vir die kinders se familie. Hoop die seun word gevind.

Maggies ·

As jy die see nie ken nie, bly eerder uit. So het ons Natallers gewoonlik geglo.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Die see en ‘n groot dam is twee massiewe verskillende plekke. Tog waag daar gereeld onwetende selfversekerde dam-swemmers in die grote oseaan denkende dat hulle maar kan want hulle is sterk swemmers. Van hulle verdrink, van hulle word deur haaie gebyt, van hulle kom uit. Ons moet ons kinders leer dat die see nie ‘n groot dam is nie. Daar is sterk strome onder die oppervlak en ongewenste inwoners (haaie, bloublasies, ens.) wat hulle nie kan sien voor dit te laat is nie. Lewensredders sal ‘n mens kan vertel van die LANG proses om van ‘n swembad en ‘n dam na die oseaan oor te skakel.

KhoiKhoi ·

Jammer vir die lewensverlies.
Hoop dat dit nie die beginpunt van die vakansie seisoen gaan wees nie.
Hope verdrinkings.
Innige meegevoel met die familie

Nella ·

Seestrome is sterk. Hy trek jou in, spoel dan sykante toe en stoot jou weer terug land toe. Nou probeer mense reguit terugswem land toe en dit is die grootste fout. Mense moet net kophou en saam stroom gaan. Nie teen die stroom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.