Kind kritiek, ma ernstig beseer ná motor rol

Ellen en Zanelle voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Ellen en Zanelle voor die ongeluk. Foto: Verskaf

ʼn Agtjarige meisie veg om haar lewe in ʼn Pretoriase hospitaal, met haar ma sowat 200 km verder in ʼn hospitaal in Thabazimbi, nadat hulle verlede week in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was.

Brian Smith (33), ʼn familielid van Ellen Swanepoel (27) en Zanelle May Griezel (9), het Dinsdag aan Maroela Media gesê die ongeluk het Donderdag omstreeks 23:00 in Thabazimbi in Limpopo plaasgevind.

“Dit is nog nie duidelik wat presies gebeur het nie. Ellen kan niks van die ongeluk onthou nie en Zanelle het nog nie weer wakker geword daarna nie,” het Smith gesê. “Ons vermoed hulle was op pad huis toe en dat sy vir iets in die pad uitgeswaai het. Die motor het die pad verlaat, ʼn randsteen getref en gerol.” Daar was geen ander voertuig by die ongeluk betrokke nie.

Swanepoel het nie ʼn mediese fonds nie en is in ʼn ernstige toestand na die staatshospitaal op Thabazimbi geneem. Sy het onder meer haar heup gebreek en verskeie sny- en kneusplekke opgedoen.

Zanelle is lid van haar pa, Chris Griezel, se mediese fonds. Sy is in ʼn kritieke toestand na die Meulmed-hospitaal in Pretoria geneem vir gevorderde behandeling.

“Sy het erge hoofbeserings opgedoen, haar skedel gekraak en het bloeding op die brein. Sy word in ʼn geïnduseerde koma gehou en het reeds ʼn operasie ondergaan. Toetse is gedoen om die omvang van haar beserings te bepaal en ons behoort vandag die uitslae daarvan te kry. Maar sy is nog kritiek en die familie versoek mense om vir haar te bid,” het Smith gesê.

Intussen doen die familie alles in hul vermoë om ʼn bekommerde ma nader aan haar dogter te kry. “Ons probeer om haar na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria te skuif – nie net om nader aan Zanelle te wees nie, maar omdat ons glad nie tevrede is met die behandeling wat sy in Thabazimbi ontvang nie. Hulle behandel haar glad nie en haar wonde raak nou septies,” het Smith verduidelik.

ʼn Ondersteuningsgroep is op Facebook vir ma en dogter gestig vir gebede en boodskappe van bemoediging. Klik hier om dit te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

mandie ·

Mama en dogter julle is in ons gebede alle sterkte en voorspoed vir julle. Ons se Father sal Zanelle beskerm en genees. Ons moet net glo en vertrou

Tersia ·

Julle is in ons gebede en ons glo dat al die struikelblokke onmiddelik sal weg gaan en julle vinnig sal herstel.

wendy ·

ek klik op link van ondersteunings groep dan kom ek op poppie se persoonlike fb uit?

Sune van Heerden ·

Dagsê Wendy

Ek vra die verslaggewer om dringend ondersoek in te stel en die korrekte adres te plaas.
Dankie dat jy ons hierop gewys het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Adri` ·

Hi Sunè, die blad se naam is “Poppie en Zanellie Gebede en Wense vir Beterskap” Sluit gerus aan, ons probeer so gereeld as moontlik updates van hulle opsit.

Groete
Adri

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.