Kind kry nuwe gesig ná hiëna-aanval

Rodwell Khomazana (9) kom aan in Johannesburg aan, waar hy ‘n operasie aan sy gesig sal ondergaan nadat ‘n hiëna hom aangeval het. (Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

ʼn Span plastiese chirurge van ʼn privaathospitaal in Johannesburg maak gereed om die gesig van ʼn 9-jarige Zimbabwiese seun te herstel nadat hy verlede maand deur ʼn hiëna aangeval is.

Rodwell Khomazana het sy neus, linkeroog, meeste van sy bolip en gedeeltes van sy voorkop verloor toe hy op 2 Mei deur ʼn hiëna buite Harare aangeval is. Rodwell het lê en slaap tydens ʼn deurnagkerkdiens.

Plaaslike dokters het hul bes gedoen om hom te stabiliseer, maar het nie die nodige hulpbronne gehad om sy gesig ten volle te herstel nie. Aangesien sy ma nie die duur mediese werk wat nodig is om sy gesig te herstel, kan bekostig nie, het sy dokters in Suid-Afrika gekontak, met die hoop dat hulle dit gratis sal doen. Ridwan Mia, ʼn plastiese chirurg, en sy span het toe aangebied om presies dit te doen.

“Toe ek die storie lees van hierdie arme kind wat deur ʼn hiëna verskeur is, kon ek net nie nee sê nie,” het Mia aan AFP gesê.

Die plastiese chirurg Ridwan Mia (tweede van regs), wag sy 9-jarige pasiënt in by die Mediclinic in Sandton. (Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

Rodwell het Saterdag in Suid-Afrika aangekom en is deur hospitaalpersoneel van die Sandton Mediclinic op die lughawe ingewag. Hy sal na verwagting Maandag sy eerste operasie ondergaan. Dié operasie is net om vas te stel wat die skade is. Daarna sal dokters ʼn opvolgoperasie skeduleer wat na verwagting tot 20 uur kan duur.

Die span dokters beplan om weefsel van ander gedeeltes van Rodwell se lyf te gebruik om sy kakebeen, neus, mond en wange van voor af op te bou. Hy sal ook ʼn prostetiese oog kry. “Hy sal ongelukkig nog vele letsels op sy gesig hê, maar ons hoop om deur hierdie spesifieke operasie so min as moontlik letsels agter te laat,” het Mia gesê. “Ons wil Rodwell ten minste in staat stel om dié dinge te geniet wat meeste ander kinders geniet.”

Rodwell sal na verwagting ʼn maand lank in die hospitaal moet bly. ʼn Hotel het intussen aangebied om gratis verblyf aan sy ma te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Seker ‘n mooi gebaar die gratis hospitaal en hotelverblyf. Veral vir mense vanuit Zimbabwe. Maar ‘n gratis bord kos bestaan nie. Dus, gratis kan aangebied word indien die Suid Afrikaanse belastingbetaler, verbruiker en mediese fondse gemelk word om vir sulke dinge te betaal.

Willem

Die kostes maak in hierdie geval nie saak nie. Dis ‘n kind wat ‘n tweede kans op ‘n normale lewe kry. Ek ril as ek dink aan die skade aan hierdie kind se gesig. Selfs ‘n dokters kennis van my was geskok toe ek hom hiervan vertel. Ek hoop regtig die dokters kan die skade herstel. Wat die geld betref: dit gaan vir ‘n verdienstelike saak; dit verdwyn nie net in ‘n bodemlose put nie.

Bessie

Dr Mia is ‘n fantastiese Chirurg