Kind met slagtersmes aangeval; man in hof

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

ʼn Jong kind is tans in die intensiewe sorgeenheid van ʼn hospitaal nadat haar ma se kêrel glo haar keel met ʼn slagtersmes probeer afsny het.

Die man het homself kort ná die aanval aan die polisie oorgegee.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê ʼn 31-jarige man het Vrydag in die Mamelodi-landdroshof verskyn waar hy tereg staan op aanklag van poging tot moord.

Daar word beweer dat die slagoffer se ma en die verdagte, met wie sy in ʼn verhouding is, verlede week ʼn begrafnis bygewoon het toe ʼn argument tussen hulle ontstaan het.

Die man het na bewering die dag ná die begrafnis na die vrou se woning gegaan om die geskil tussen hulle te besleg. Die vrou was egter nie tuis nie, maar wel die agtjarige kind en haar ouma.

“Die man het na bewering ʼn slagtersmes in die kombuis gekry en probeer om die kind se keel af te sny,” sê Mahanjana.

Die ma, wat naby die woning was, het haar ma se histeriese gille gehoor en huis toe gehardloop.

“Sy het haar beseerde kind na ʼn plaaslike hospitaal geneem waar sy nou in die intensiewe sorgeenheid is.”

Die man het homself kort daarna aan die Hammanskraal-polisie oorgegee en hy is in hegtenis geneem.

Dit is nog nie duidelik wat aanleiding tot die aanval gegee het nie.

Die hof het die saak met die oog op ʼn borgtogaansoek tot 5 Mei uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.