Kind onder ses wat in Mpumalanga-ongeluk sterf

Die ongeluk op die R38 in Mpumalanga het die lewe van ses mense geëis. (Foto: DCCSL)

Ses mense, onder wie ʼn kind, is Saterdagmiddag dood in ʼn botsing op die R38 tussen Badplaas en Barberton in Mpumalanga.

Vyf van die slagoffers, ook die kind, was insittendes van ʼn sedan wat omstreeks 14:00 teen ʼn vragmotor gebots het, sê Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid.

Die vragmotorbestuurder het ook op die toneel gesterf, terwyl sy passasier ernstig beseer en na ʼn hospitaal gehaas is.

Mmusi sê een van die bestuurders het vermoedelik op ʼn gevaarlike manier ʼn ander voertuig probeer verbysteek toe die botsing plaasgevind het.

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, het opnuut ʼn beroep op motoriste in die provinsie gedoen om veilig te bestuur. “Ons moet die pad met groter versigtigheid gebruik om onnodige lewensverlies te vermy,” sê Shongwe.

Hy het ook sy medelye met die slagoffers se families betuig en die beseerde passasier spoedige beterskap toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

mattk ·

Ons het mos geen benul van padreëls nie en die ander wat van voor kom kan my mos sien en uitswaai. Wetsgehoorsaamheid het lankal al by die vensters uit gevlieg. Beroepe om veilig te bestuur help niks, verkeerspersoneel moet mense vasvat en minder koeldrank en kentucky (geld) aanvaar.

Zombie ·

As die vragmotor nie in die foto verskyn nie, sal mens dit nie kan sien nie.

Keelvol ·

Gaan die ouers van die bestuurders ook nou aangekla word?

Zombie ·

Nee, heel waarskynlik nie strafregtelik nie, Johan. Teoreties gesproke kan familielede wel met ń siviele geding teen die ouers van die bestuurders begin, maar mens betwyfel uit die staanspoor uit die meriete van so ń saak. Dis maar wat ek dink.

Leon ·

Ek ken daardie pas goed. N(H)elshoogte. As daar een ding is wat oor daardie pas gesê kan word dan is dit hoe bstuurder in beide rigtings teen blinde hoogtes en draaie verbysteek. Én dan die afwesigheid van verkeerspolisie. Hulle sit wel aan die onderkant vd pas om voertuiglisensies na te gaan.

Di ·

Party bestuurders sal eerder die kans waag en op verkeerde plekke ‘n ander voeruig verbysteek as om eerder te wag. Te haastig en raak roekeloos, die gevolge dat 6 mense se lewens beeindig is.

Wielspore ·

Ons gebruik die pad Badplaas toe en het nou nog video’s van ons voertuig se dashcam wat wys hoe bestuurders op sperstrepe en draaie ander voertuie verbysteek. Die verkeersbeamptes beman die pad aan die onderkant van die pas in albei rigtings, eerstens by die kruising na Nelspruit en Baberton en dan naby Badplaas. Baie mooi pad met mooi natuurtonele, ry eerder rustig en geniet die pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.