Kind se liggaam in rivier gevind

Die liggaam van ’n agtjarige kind is Woensdag in die Phalala-rivier in Lephalale gevind. (Foto: SAPD)

Die liggaam van ’n agtjarige kind is Woensdag in die Phalala-rivier wat langs die Tshehlong-nedersetting in Lephalale (Ellisras), Limpopo, verbyloop, gevind.

Die seuntjie se liggaam is sowat 16 km van die Shongwane-nedersetting waar hy aanvanklik verdwyn het, gevind.

Volgens die polisie het die kind Maandag saam met sy maats gespeel toe hy glo in die rivier geval het en deur ’n sterk stroom meegesleur is.

Die polisie in Villa Norah in die Waterbergdistrik het intussen ’n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.

Die liggaam van nóg ’n kind, vermoedelik 11 jaar oud, is ook Woensdag in ’n afsonderlike voorval uit die Mokolodam by Lephalale gehaal.

Maroela Media het vroeër berig dat dié kind saam met twee onderwysers, Mof (60) en Mariëtte Weber (55), op ’n boot was toe dit vermoedelik oor die damwal  gestort het.  Die soektog na die Weber-egpaar duur intussen voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.