Kind se liggaam in stroom gevind

Die liggaam van ʼn negejarige seun van Uitkyk-nedersetting in Noordwes is Sondagmiddag in ʼn stroom gevind. (Foto: Verskaf / SAPD)

Die liggaam van ʼn negejarige seun van Uitkyk-nedersetting in Noordwes is Sondagmiddag in ʼn stroom gevind twee dae nadat sy ouers hom as vermis aangemeld het.

Beamptes van die polisie se lugvleuel het die seuntjie se liggaam tydens ʼn lugsoektog tussen opdrifsels opgemerk.

Dié stroom loop na ʼn nabygeleë rivier wat uiteindelik in die Molatedi-dam vloei.

Volgens kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder, het die seun Vrydagmiddag saam met maats by die stroom, wat naby die nedersetting verbyloop, gespeel.

“Hy het in die water gespring om te swem, maar is deur ʼn sterk stroom meegesleur. Die kind se maats het sy ouers in kennis gestel waarna hulle die Madikwe-polisie gekontak het. ʼn Soektog is onmiddellik van stapel gestuur, maar moes ongelukkig gestaak word aangesien dit donker geword het. Die soektog is vroeg Saterdagoggend hervat.”

Polisieduikers sowel as duikers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Hartbeespoort is ontbied om met die soektog te help.

Lede van die polisie se lugvleuel het die kind se liggaam omstreeks 17:30 gesien. Sy liggaam het in opdrifsels in die stroom vasgesit.

“Die NSRI en polisie se strategiese reaksie-eenheid het die liggaam uit die rivier gehaal.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marius

Dit is baie hartseer. Innige medelye en simpatie aan die ouers en famillie.