Kind se liggaam in Tulbagh gevind

Tulbagh Argief (Foto: Andres de Wet, Wikimedia Commons)

Die liggaam van ʼn sewejarige seun is Sondag tussen die bosse naby ʼn rivieroewer in Tulbagh in die Wes-Kaap gevind.

Volgens brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het die seun se familie hom vroeg die oggend as vermis aangemeld. ʼn Soektog is onmiddellik van stapel gestuur. Sy liggaam is omstreeks 07:20 dieselfde dag ontdek.

ʼn Drie-en‑vyftigjarige man is kort daarna in verband met die seun se moord in hegtenis geneem en sal na verwagting eersdaags in die Tulbagh-landdroshof verskyn.

Potelwa sê namate die ondersoek ontvou, kan meer klagtes bygevoeg word.

Maroela Media het probeer om met die polisie in aanraking te kom oor die seun se ouderdom.

Dit is die derde kind wat binne die bestek van drie weke in die Wes-Kaap verdwyn en kort daarna dood aangetref word.

Maroela Media het Sondag berig van ʼn liggaam wat tussen die riete op ʼn plaas in Kronedal gevind is wat moontlik dié van die 12-jarige seun kan wees wat Woensdag in Houtbaai spoorloos verdwyn het. ʼn Drie-en-twintigjarige man wat glo die laaste keer saam met die seun gesien was, is Saterdag in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die Wynbergse landdroshof verskyn.

Tazné van Wyk (8) van Elsiesrivier se verdwyning het die afgelope tyd groot opslae in die media gemaak. Meer as ʼn week nadat sy vermis geraak het, is haar liggaam in ʼn stormwaterpyp buite Worcester aangetref. Moehydien Pangaker (54) is in verband met haar verdwyning in hegtenis geneem en sal in Aprilmaand weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LIEZL ·

Liewe Heer, al wat ons kan doen is om op ons knieë te gaan en te bid vir hierdie sinnelose dade. Ek vra dat ons ‘n gebed van krag sal stuur om ons jong kinders uit te los in die naam van ons wonderlike Vader, Amen! Elke individu wat die gedagte het om ‘n kind leed aan te doen, ek vra dat U onmiddelik hom of haar sal aanraak, dat die lelike gedagtes sal verander in lofprys aan U. En dat hy/sy tot inkeer sal kom en hulp vra voor hy/sy enige leed aandoen. Dankie dat U nogsteeds beskerming bied vir so baie kinders.

ElizeK ·

Dit is nie net in die Wes Kaap nie Pampoen. Die hele land steier onder geweld teen kinders.
n Maand of twee gelede was dit GP wat elke dag in die nuus was.

Oujongvrou ·

Dis die tik!!!Is al wat ek kan dink. Baie lelike dwelms wat hier rondgaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.