
Taegrin Morris (4). Foto: Facebook
Taegrin Morris (4) van Boksburg aan die Oos-Rand se sleepdood word uit talle oorde veroordeel.
Taegrin is Saterdagaand dood nadat hy kilometers ver buite ʼn gekaapte motor gesleep is,
David Makhura, die premier van Gauteng, het Maandag gesê dit was ʼn hartelose daad. “Om ʼn klein seuntjie vir 8km ver te sleep is harteloos. Die kapers kon moontlik onder die invloed van dwelms gewees het, want ons weet daar is ʼn dwelmprobleem in die gebied,” het Makhura gesê.
Die premier het reeds die seun se gesin in Reigerpark, waar die voorval plaasgevind het, gaan besoek.
Taegrin was saam met sy ma en sussie (8) in ʼn Volkswagen Golf toe drie mans hulle genader het. Hulle het die gesin gedwing om uit die motor te klim, maar hy het in sy veiligheidsgordel verstrengel geraak en die kapers het met hom buite die motor weggejaag. Hy is vir ongeveer 8.5km ver van Reigerpark tot by Boksburg langs die motor gesleep. Die kapers het daarna die voertuig verlaat en gevlug. Taegrin was reeds dood.
Kol. Noxolo Kweza, ʼn polisiewoordvoerder, het intussen gesê die polisie ondervra ʼn man in verband met die voorval, maar het bevestig niemand is nog in hegtenis geneem nie. “Die man word ondervra, maar hy is nie ʼn verdagte nie,” het Kweza gesê. Sy het gesê die polisie hoop dat die man die polisie met hul ondersoek kan bystaan.
Kweza het gerugte ontken dat ʼn persoon wat aan die kaping verbind word, homself aan die polisie oorgegee het.
Die polisie het ʼn R50 000 beloning uitgeloof vir inligting wat tot die skuldiges se inhegtenisname kan lei. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en kaping.
Adv. Anton Alberts, woordvoerder vir die Vryheidsfront Plus, het Maandag gesê Taegrin se dood is ʼn bewys dat misdaad buite beheer is, al word dit deur die ANC-regering ontken.
Hy het versoek dat die doodstraf weer oorweeg moet word. “Daar sal weer ernstig moet besin word om misdaad wat met sulke wreedheid gepaard gaan, met die dood te straf,” het Alberts in ʼn verklaring gesê. “Dit is ondenkbaar hoe sy ouers, Chantel en Elwin, moet voel en die party wil sy diepste medelye met die gesin betuig. Dit kan bloot nie so voortgaan nie. Die vermoë van die polisie om misdaad onder beheer te bring, sal opnuut belig moet word. Die voorval moes nooit gebeur het nie,” het hy gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Misdaad is beslis buite beheer, geen persoon verdien om so te sterf. Nogal vreemd dat die SAPS weet dat die area ‘n dwelm probleem het, hoekom dan nie iets daaromtrent doen. Verantwoordelikheid lê by die leiers, die bloed is in hulle hande
Die misdadigers kom weg met moord in die land!hoe gaan als opgelos word as die polisie nie eers aan hulle kan raak nie…die polisie se hande is ook afgekap..
Ek raak sommer weer ROOI om die kraag.
Misdaad is nie net van vandag af buite beheer nie – dis lank reeds die geval. Kyk hoeveel van ons bejaarde mense word nie net wreed aangerand, gebrand met strykysters, aangeval met byle, en vir dood agtergelaat nie.
Stem saam met Petrus hierbo, die regering het bloed aan hul hande.
PS: Hulle is GEEN leiers nie !
Kom kom gemeenskap. Julle weet dan wie die kapers was. Praat julle prate…………
Kry hulle en sleep hulle agter karre aan………….
Viva doodstraf Viva!!