Kind sterf toe motoris van verkeerspolisie vlug

Argieffoto bloot ter illustrasie van spoedbeperkinge. (Foto: Arrive Alive)

’n Motoris het Dinsdag ’n sewejarige kind raakgery toe hy glo die plaaslike verkeerspolisie probeer ontduik en deur ’n huis in Limpopo geploeg het.

Die kind is op die toneel dood.

Mike Maringa, provinsiale woordvoerder van die departement van vervoer, sê drie verkeersbeamptes het ná 16:00 die D3248 Deerpark-pad buite Tzaneen dopgehou en spoedkontroles gedoen.

Die beamptes het ’n Toyota-motor opgemerk wat 93 km per uur in ’n 60 km/h-sone ry en een van die beamptes het die motor probeer voorkeer.

Die motoris het glo teen ’n hoë spoed weggejaag en die beamptes het die motor agternagesit.

Die motor is kort daarna by die Mandlakazi-nedersetting in die omgewing van Nwa-Mitwa opgespoor waar dit deur ’n huis geploeg en omgeslaan het.

Die bestuurder (25) van die motor is summier in hegtenis geneem en ’n saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak.

Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het die voorval betreur.

“Ek is ontsteld oor die situasie wat gelei het tot die dood van ’n kind aan die hand van ’n roekelose bestuurder wat van die beamptes gevlug het.”

Die LUR het ook haar medelye met die kind se familie betuig en die versekering gegee dat geregtigheid sal geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Geen geregtigheid Kan geskied nie, want niks Kan jou kind terugbring nie

Harley Davidson ·

Ek verstaan nie die krimineel sou net ‘n boete kry ,nou is hy verseker van tronkstraf vir moord al is dit net ‘n paar maande in hierdie land.

Cherokee ·

Wat verstaan jy nie? Miskien is daar meer betrokke as bloot 93 in ‘n 60 sone.

cccp ·

Hoe interessant: Wanneer iemand hulleself teen inbrekers & moordenaars verdedig word daar gewoonlik onmiddelik ‘n saak van moord oopgemaak (hoewel die polisie volhou dat dit net ‘n formaliteit is). In hierdie geval veroorsaak die persoon direk die dood van ‘n onskuldige kind terwyl hy besig is om die wet te oortree, maar dit is net ‘strafbare manslag’ (O, ek vergeet – wetsoortreders is kroonwild).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.