Kind sterf toe skuilings brand

Die afgebrande skuilings in Sarepta. (Foto: Thsego Lepule)

’n Jong kind is dood en twee volwassenes ernstig beseer toe informele skuilings Donderdag laataand in die omgewing van Kuilsrivier aan die brand geraak het.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê die brand-en-reddingsdienste is omstreeks 23:30 na Zinniastraat in Sarepta ontbied waar twee skuilings by beamptes se aankoms in vlamme gehul was.

Die verbrande liggaam van ’n dogtertjie is in een van die brandende skuilings aangetref. Die kind se ouderdom is nie in dié stadium duidelik nie.

Die puin ná twee skuilings in Sarepta afgebrand het. (Foto: Thsego Lepule)

’n Volwasse man en vrou het ook ernstige brandwonde tydens die voorval opgedoen en is laataand na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Carelse sê die vlamme kon net voor 00:30 eindelik geblus word.

Die oorsaak van die brand is nie in dié stadium duidelik nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) stel ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.