Kind uit rioolpyp gered

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

ʼn 11-jarige meisie is Donderdagmiddag gered nadat sy in ʼn nou rioolpyp beland en vasgesit het.

Volgens Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het die voorval omstreeks 14:00 in die Izingolweni-omgewing aan KwaZulu-Natal se suidkus plaasgevind. “Die meisie het saam met haar maatjies om die pyp gespeel toe sy gegly en met haar boude eerste in die gat geval het,” het Botha gesê. “Sy het in ʼn baie ongemaklike posisie in die nou pyp vasgesit.”

Botha sê die Port Shepstone-polisie se soek- en reddingseenheid, die brandweer en paramedici van Netcare 911 is na die toneel ontbied. “Sy was baie benoud toe paramedici by die toneel opgedaag het. Reddingswerkers kon nie deur die pyp sny nie, en daar is besluit om olie rondom haar lyf in die pyp af te gooi en haar met sorg te probeer uittrek.”

Omstanders het ʼn luide applous gegee toe reddingswerkers haar ná 45 minute se gespook uit die pyp gered het. “Sy is ondersoek en het gelukkig geen beserings opgedoen nie. Sy is in haar ouers se sorg gelaat,” het Botha bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.