Video: Kind uit trollie gegryp in Umhlanga-sentrum

‘n Skermskoot uit die video.

ʼn Man sal vandag in die Verulam-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn op aanklag van ontvoering.

Die 29-jarige man is Donderdagmiddag in hegtenis geneem ná ʼn voorval in ʼn winkelsentrum in Umhlanga, het brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, gesê.

ʼn 57-jarige ouma was op dié dag saam met haar tweejarige kleinseun in die winkelsentrum. “Sy was besig om ʼn betaling te maak toe ʼn onbekende man haar kleinseun wat in ʼn trollie gesit het opgetel en weggeloop het.”

Volgens Naicker het die paniekbevange ouma in die winkesentrum begin rondhardloop en na haar kleinseun geroep. “Sy het gesien hoe ʼn man in ʼn veiligheidswaguniform in een van die winkels inloop met haar kleinseun.”

Die ouma het haar kleinseun uit die man se arms gegryp en die voorval onmiddellik by die winkelsentrum se bestuur aangemeld waarna die polisie ontbied is.

“Polisiebeamptes van die Durban-Noord-polisiestasie het op die toneel aangekom en onmiddellik die sentrum se kringtelevisiebeeldmateriaal nagegaan. Die verdagte is as ʼn veiligheidswag wat aan diens was by die sentrum geïdentifiseer en op die plek in hegtenis geneem.”

ʼn Saak van ontvoering is by die Durban-Noord-polisiestasie aanhangig gemaak.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes geloof vir hul vinnige optrede.

“Ons doen ʼn beroep op ouers om altyd ʼn oog oor hul kinders te hou veral tydens die feesseisoen. In dié stadium weet ons nie wat die verdagte se bedoelings was nie, maar dit wys net ons moet ten alle tye waaksaam wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.