Kind verdrink by Kaapstad-swembad

Die Trafalgar openbare swembad in Woodstock. (Foto: City of Cape Town/Twitter)

ʼn Middag langs die swembad het tragies geëindig toe ʼn tienjarige meisie Sondag by ʼn openbare swembad in Kaapstad verdrink het.

Dit ten spyte daarvan dat lewensredders alles moontlik gedoen het om haar te probeer bybring.

Nog ʼn kind het amper dieselfde oorgekom, maar het dit wonderbaarlik oorleef.

Volgens een van Kaapstad se wykraadslede, Ian McMahon, het een van die meisies net voor 16:00 by die Trafalgar‑ openbare swembad in Woodstock verdrink.

“Lewensredders het hard baklei om die minderjarige by te bring, maar was ongelukkig onsuksesvol,” sê hy.

Die kind is op die toneel dood verklaar nadat die Wes-Kaapse nooddiens daar aangekom het.

“Die Stad Kaapstad wil ons innige meegevoel met die familie en vriende van die oorlede kind betuig.”

Volgens McMahon het die lewensredders ʼn tweede kind uit die water gehaal wat haar beproewing oorleef het.

Die 12-jarige meisie is met ʼn private ambulansdiens na ʼn hospitaal geneem en is glo in ʼn stabiele toestand.

Die Trafalgar‑ openbare swembad is intussen tot verdere kennisgewing vir lede van die publiek gesluit.

In ʼn onverwante voorval is drie mense Sondag gered toe hulle deur die see meegesleur is.

Deanna February, woordvoerder van die Wes-Kaapse nooddiens, sê die drie swemmers is om 15:56 by die Strand gered.

“Een van die pasiënte was in ʼn ernstige toestand en is deur ʼn private ambulansdiens na die Helderberg-hospitaal geneem,” sê sy.

Die ander twee swemmers het vervoer na ʼn hospitaal van die hand gewys, maar is op die toneel behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danny

Mits jy nie kan swem nie – BLY WEG VAN DIE WATER!

Swerwer

Innige simpatie en meegvoel met die ouers en naasbestaandes. Kinders is veronderstel om onder toesig te swem. Dit help nie om die swembad te sluit wanneer iemand verdrink nie. Stel liewer die swembad oop en kry iemand wat swemklasse gratis aanbied om sodoende kinders en grootmense te leer swem en wat om te doen as jy in gevaar in die water verkeer.

Maritza

Waar was die lewens redders toe sy besig was om te verdrink?