ʼn Driejarige seun het Dinsdag in die swembad van sy ouerhuis in Nigel aan die Oos-Rand verdrink.
Sers. Lerato Mngomezulu, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het omstreeks 16:00 by ʼn huis in Ferry Bridgestraat plaasgevind.
“Die seun het vir ʼn oomblik uit sy ouers se toesig geglip. Toe hulle agterkom hy is nie in die omtrek nie, het hulle na hom begin soek,” het Mngomezulu gesê.
Die kind is dood in die swembad aangetref.
Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.
Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om ten alle tye bewus te wees van kinders se beweging aangesien “tragedies in ʼn oogwink kan plaasvind”. Die polisie het ook ʼn beroep gedoen op mense met swembaddens om die swembad af te sper of ʼn netbedekking aan te skaf.