Kind verdrink, paramedici red nog twee op vakansiedag

Argieffoto (Foto: Piper60, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Piper60, Pixabay)

Paramedici is Woensdag na verskeie gevalle van verdrinkings regoor die land ontbied.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is na ʼn swembad in Margate uitgeroep nadat ʼn 7-jarige seuntjie wat daar geswem het, verdrink het. “Toe paramedici by die toneel opdaag, het ons gesien hoe die lewensredders noodbehandeling op die kind toepas in ʼn poging om hom by te bring,” het hy gesê.

“Paramedici het die kind op ʼn asemhalingsmasjien geplaas en dadelik met gevorderde noodbehandeling begin. Nadat hulle 45 minute lank probeer het om hom by te bring, was daar ongelukkig niks verder wat gedoen kon word nie en die kind is op die toneel dood verklaar.”

Die span van Netcare 911 is ook na ʼn huis in Mulbarton, Johannesburg, ontbied waar ʼn tweejarige seuntjie in ʼn swembad beland het. Volgens Athlenda Mathe, woordvoerder van die nooddiens, kon paramedici daarin slaag om die kleuter te stabiliseer voordat hy per helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is.

Nog ʼn kind moes Woensdag op ʼn strand in die Strand in die Wes-Kaap bygebring word nadat sy byna in die see verdrink het.

Volgens Botha het die 13-jarige meisie glo in die see baljaar toe sy in ʼn sleurstroom vasgevang en dieper in die see in getrek is. Familielede kon daarin slaag om haar te red en haar bewustelose liggaam op die strand neer te lê.

“Paramedici het noodbehandeling toegepas al die pad tot by die hospitaal en kon daarin slaag om haar weer by te bring,” het Botha gesê.

“Ons doen weereens ʼn beroep op mense om waterveilig te wees en slegs in afgesperde areas te swem waar lewensredders aan diens is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charlene ·

Dis so onnodig.Ons was by Amanzimtoti gewees waar ‘n kind ook so te sê verdrink het, die ma was nêrens insig nie. Na ‘n hele ruk het iemand die ma opgespoor. Ons los nie ons kinders vir ‘n oomblik alleen nie.

Zelda ·

Janee Charlene… Ons was so twee weke terug in Durban… Voor die rush.. Om rustig te kan vakansie hou. My kinders drie en nege jaar oud was nie een oomblik uit my oog nie… Mense moet leer om hul kinders op te pas… Dis geskenkies v bo.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.