Kind vermis ná see ma ook meesleur

Die soektog is Saterdag van stapel gestuur. (Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

ʼn Sesjarige kind is steeds vermis nadat hy en sy ma Saterdag deur seestrome meegesleur is.

Die ma en seun het na bewering aan die kus van Zimbali, naby Ballito in KwaZulu-Natal, geswem toe branders hulle in vlak water oorrompel het. Die twee is saam met die strome meegesleur en het vinnig onder die water verdwyn.

Volgens Mike Bishop, opleidingstuurman by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Ballito, is die ma kort daarna uit die water gered, maar die kind was nêrens te siene nie.

ʼn NSRI-seereddingsvaartuig, wat ʼn opleidingsoefening gedoen het, is om 14:00 na die toneel ontbied. ʼn Grootskaalse soektog is deur die NSRI, nooddienste, die polisie se soek-en-reddingseenheid en die honde-eenheid van stapel gestuur.

“Die NSRI se seereddingsvaartuie het soek-en-reddingsoperasies uitgevoer tussen die mond van die Tongaatrivier en die Zimbali-vallei en poele,” het Bishop gesê.

Ondanks ʼn uitgebreide soektog aan die kus is geen teken van die kind gevind nie.

NSRI-kuswagte, plaaslike sekerheidslede en lede van die gemeenskap het deur die aand die strande gepatrolleer in die hoop om die seun op land aan te tref.

Die polisie, plaaslike lewensredders, NSRI-Ballito en nooddienste het Sondag voortgegaan met die soektog. ʼn Privaat vliegtuig en lede van die Salmonbaai-skibootklub het met vier privaat bote die see in gevaar, maar sonder welslae.

“Die kind is steeds vermis en soektogte word voortgesit.”

Intussen is die liggaam van ʼn vermiste man wat Sondag in die Hazelmere-dam geval het, opgespoor.

Die IPSS-noodreddingsdiens het gesê die Amerikaanse man het na bewering Sondag uit ʼn boot geval en onder die water verdwyn. Dié dam is etlike kilometers van die Zimbali-kus af.

Polisieduikers het Maandag om 13:01 die man se liggaam gevind.

Dit is nog nie duidelik waaraan die man oorlede is nie, maar die polisie is op die toneel en ondersoek die saak verder.

Polisieduikers het die
man se liggaam gevind. (Foto: IPSS Medical Rescue/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.