Kind, vier ander sterf in gru-botsing

Die ongelukstoneel op die R555 tussen Middelburg en Stoffberg. (Foto: Verskaf)

Vyf mense, onder wie ’n jong kind, is Woensdagaand in ’n trompop botsing op die R555 tussen Middelburg en Stoffberg dood. Verskeie ander mense is in die botsing beseer.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die nooddienste is gisteraand na die ongelukstoneel sowat 40 km buite Middelburg in Mpumalanga ontbied waar die wrakke van ’n bakkie en ’n motor in die middel van die pad aangetref is.

Vier erg beseerde volwassenes en ’n jong kind was in dié stadium nog in die voertuie vasgekeer en is op die toneel dood verklaar.

Dit is nog onduidelik presies hoe oud die kind was wat in die ongeluk dood is.

Verskeie ander mense, onder wie glo nóg ’n jong kind, is beseer en op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale gehaas is vir mediese behandeling.

Die presiese omstandighede rakende die voorval is nie in dié stadium duidelik nie hoewel die owerhede gisteraand op die toneel was om ondersoek in te stel.

Nóg ’n trompop botsing

Die ongelukstoneel op die N14 noord van Randfontein en Carletonville. (Foto: ER24)

In ʼn afsonderlike voorval Woensdagmiddag aan die Wes-Rand is vier volwassenes en twee kinders, onderskeidelik 8 en 14 jaar oud, beseer toe ’n bakkie en ’n motor reg van voor op die N14 noord van Randfontein en Carletonville gebots het.

Meiring sê paramedici het teen 17:37 by hul aankoms op die toneel die bakkie in die linkerbaan aangetref. Die motor het langs die pad gestaan terwyl die beseerdes rondom die twee wrakke gelê het.

Die twee kinders en twee volwassenes was in ’n kritieke toestand terwyl die ander twee volwassenes geringe tot matige beserings opgedoen het.

Die pasiënte is op die toneel behandel voordat twee van hulle met private mediese helikopters na nabygeleë hospitale vervoer is. Die ander is per ambulans na hospitale gehaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swerwer ·

Dit is verskriklik hoeveel noodlottige ongelukke plaasvind. Net jammer die ras word nie bekend gemaak nie, en die oorsaak van die ongeluk ook nie.

modiglianigirl ·

Hoekom is die ras vir jou belangrik? Koppel jy verskillende waardes aan siele na gelang van die ouderdom en velkleur van die liggame waarin hulle op die aarde rond beweeg het?

Perdeby ·

As dit ‘n trompop botsing was, dan moet jou logika vir jou se dat een voertuig het ‘n ander verby gegaan en van voor met ‘n aankomende voertuig gebots. Wat maak die kleur saak.

petro ·

hierdie trompop botsings wat deesdae so plaasvind laat my dink aan die vliegtuie wat so in Amerika in die geboue gevlieg het

Di ·

Sjoe daar is regtig baie ongelukke deesdae! Mense moet minder kanse vat op die paaie, veral in die aand wanneer mens nie so goed kan sien nie.

modiglianigirl ·

Ek sal graag wou weet watter rol die dra (of nie) van veiligheidsgordels speel in dié genoemde ongelukke?

Hendrik ·

Sperstreep, sperstreep, sperstreep…. Daar gaan is mos nie ‘n ander motor anderkant die bult of blindedraai wees nie. Jammer vir die beserings van die onskuldige passasiers en die onskuldige bestuurder.

Phillip ·

Swerwer
het ek ook al gewonder oor daai een sou dit graag ook wou weet . net vir intresantheid

marius ·

Want die howe is te sleg om reg van voor moordenaars lewenslank tronk toe te stuur . Dis die waarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.