Kinderhuis-drama: Klag oor video ‘lankal afgehandel’

Die departement sê hoewel die bewerings teenoor personeel by die Môrester-kinderhuis in Ladysmith gemaak is, sal die Newcastle-persele ook ondersoek word. Foto: Newcastle Advertiser

Die uitvoerende hoof van die KwaZulu-Natalse Christelike maatskaplike dienste (CSS) sê hoewel hy kennis dra van ʼn video van ʼn opsigter by een van sy kinderhuise wat ʼn rassistiese aanmerking teenoor ander personeel maak, is dit steeds nie duidelik of dié video die rede is hoekom sowat 200 kinders onlangs uit drie van die CSS se kinderhuise verwyder is nie.

Die video, wat glo reeds in 2017 geneem is, het kort nadat die kinders uit die kinderhuise verwyder  is, uitgelek en ook in die media se hande beland.

In die video kan gesien word hoe die duidelik ontstoke opsigter van Môrester Ladysmith met swart werknemers by die kinderhuis praat. Volgens ds. Gerhard Botha, uitvoerende hoof van die KZN CSS, kom wat die opsigter vir die werknemers sê daarop neer dat swart mense in Suid-Afrika nie sou wees waar hulle is sonder wit mense nie.

Daar was geen kinders in die omtrek toe die voorval gebeur het nie.

Volgens Botha het die swart werknemers in die video reeds destyds toe die voorval plaasgevind het ʼn klag teen die opsigter by die bestuur van die kinderhuis ingedien en het daar ʼn “intensiewe dissiplinêre proses” teen die man gevolg.

“Die goed wat hy gesê het, moes nooit gesê geword het nie – daar is geen twyfel daaroor nie. En dit is ook wat tydens die dissiplinêre proses bevind is,” verduidelik hy.

“Maar die personeel wat die klag teen die opsigter ingedien het, het die bestuur daarna genader en versoek dat hy nie ontslaan word nie. Eintlik het die opsigter ʼn baie goeie verhouding met al die ander personeel en die voorval [op die video] het tydens ʼn tipe woede-uitbarsting gebeur. Die personeel wou net gehad het dat ons hulle hoor en dat die opsigter om verskoning vra oor wat hy gesê het, nie dat hy afgedank moet word nie.”

Botha sê daar is gevolglik besluit om, met die instemming van die personeel wat die klag gelê het, die opsigter ʼn finale skriftelike waarskuwing te gee. “Dit was eintlik ʼn wonderlike gebaar dat die personeel eerder ʼn roete van versoening wou volg en ʼn pad van rekonsiliasie saam wou stap ná hierdie voorval. Die opsigter is steeds by die kinderhuis en daar was daarna nog nooit weer enige probleme nie.”

Botha sê hoewel hy geensins ontken dat die opsigter se uitsprake in die video onaanvaarbaar is nie, word die k-woord geensins in die video gebruik soos die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling aanvoer by die kinderhuis gebeur het nie.

“Die video is nou in die kollig nadat iemand dit gelek het. Of die departement besluit het om die kinders op grond van dié video te verwyder, weet ek nie. Ons weet tot vandag toe nie wat presies die bewerings is wat die departement ondersoek of na watter beweerde ‘rassistiese voorvalle’ of ‘mishandeling’ hulle verwys nie.”

Phili Mngomezulu, een van die kindersorgwerkers by Môrester Newcastle, by die ingang wat versier is in afwagting op die kinders se terugkeer. (Foto: Anel du Preez)

Maroela Media het vroeër berig die departement voer aan die kinders is verlede naweek uit Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en Huis Meah verwyder nadat bewerings van fisieke, verbale en emosionele mishandeling, asook rassisme by een van die kinderhuise, onder die departement se aandag gekom het. Die kinders is egter intussen danksy ʼn hofbevel aan die kinderhuise terugbesorg.

Botha sê hoewel dit nie aan hulle bekend is of die video die rede vir die kinders se verwydering is nie, is die opsigter in die video wel gevra om die perseel vir tyd en wyl te verlaat. “Hy het self ingestem dit is beter as hy die perseel verlaat weens hierdie wolk wat nou hang oor die video. Ons kan nie weer dissiplinêre stappe doen nie, daardie proses is mos nou reeds afgehandel. Maar ons wag nou op die departement se ondersoek om uit te vind of die video ooit ter sprake is.”

Die CSS het intussen Maandag ʼn aansoek voor die hof gebring om die departement aan te kla van minagting van die hof aangesien hy meen dat die departement nie die kinders binne die hofuitspraak se voorgeskrewe spertyd aan die kinderhuise terugbesorg het nie.

“Ons is glad nie hier op ʼn heksejag nie, maar die staat kan nie bloot net die hof ignoreer en dink dit is oukei nie. As jy die hof ignoreer, selfs al is jy die staat, moet daar mos gevolge wees,” sê Botha.

Hy sê die hof het wel CSS se aansoek aangehoor maar besluit dat die aansoek hanteer sal word wanneer die partye op 25 Maart weer in die hof verskyn. Dit sal die departement ook kans gee om opponerende hofstukke teen die minagtingsaansoek in te dien.

Intussen is maatskaplike werkers steeds besig met intensiewe berading vir die kinders wat erg deur die verwydering getraumatiseer is, sê Botha. Hy sê die twee kinders wat epileptiese aanvalle gekry het toe hulle uit die kinderhuis verwyder is, sterk tans steeds aan in die hospitaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

maplotter ·

Ek hoop die amptenarre word strafregtelik vervolg en siviel verantwoordelik gehou vir kostes en leiding. Miskien kan n prokureur vir homself n naam met met n groepsgeding.

Piet Snot ·

Ter wille vd kinders is dit m.i. die Bestuur se plig om voort te gaan met regsaksie teen die amptenare persoonlik.
Ongeag die feit dat dit ‘n kerkinrigting is.

Pierre ·

Kry eers die persoon wat die video uitgelek het en derhalwe valse getuienis gegee het oor die saak. Tweedens moet daar opgetree word teen die Departement wat kwaadwillig gereageer het en die kinders verwyder het sonder substantiewe bewyse. Hierdie is maar net weer ‘n bewys dat waar enige blanke met sg haatspraak verbind word daar blindelings opgetree word, ‘n bewys dat slegs blankes rassiste is. Hierdie optredes moet in die kiem gesmoor word, want ander mense wat meer kwaadwillig is soos die BLF Leierskap loop steeds rond sonder om aangevat te word. Ek is jammer vir hierdie kinders want hulle het daaronder gelei, nie die amptenare wat hulle verwyder het onder Polisie begeleiding nie. Mag hierdie saak sy gang loop en mag daar ook van hierdie mense ‘n voorbeeld gemaak word. Mag is mos koning…

Essa ·

Jy is reg Cherokee. Maar die woord “leiding” nie!! Dis juis wat dit niè was nie. Wel lyding en trauma vir die kinders en personeel. Die besluitnemers moet beslis verduidelik wat de dinges hier verkeerd gegaan het. Dis absurd. Onbevoegdheid.
Geklikheid.

koos1 ·

Daai video gaan vir ewig oor sy kop hang. Kyk maar wat het op die Zondo kommissie gebeur. Nou ja, as ons nie die bal kan speel nie, speel ons maar die man, of so dink ons regering mos!

Johnnie ·

Jy is reg cherokee dit is mos die regering se ampte-narre want hulle is mos maar n spul narre. Arme kinders hulle is min gespin oor die kinders dis net politieke boeliery omdat blankes in beheer is en dit n christelike orgenisasie is.

Bietjie baie ·

Kinderhuise bied n standvastigheid vir kinders wat getraumatiseerd is. Fostercare faal kinders wat getraumatiseer is skandelik . Maar wie gee n amptenaar die reg om besluite te neem asof kinders speelgoed poppe is met geen emosies nie. Al hierdie onsekerheid gaan lê baie diep in n kind se onderbewussyn.
Amptenare:- Hou op om kinders nog meer onwelkom te laat voel in die samelewing.

JAN ·

traai weer.
Dit is OGOT se projek – die vervolging van Christen opvoeding ; Googloer self.
Lees sommer ook ‘ Volksverraad ‘ weer ‘n slag.
Die hel is los vir dekades al.

Sê ook ma net ·

Ek is gelukkig om so boekie te hê. Bitter moeilik om hom op te spoor. En natuurlik sal die boek nie openlik beskikbaar wees nie. Daar is mos te veel waarheid in.

lh ·

Baie sterkte Ds Gerhard Botha & Kie!!!
Julle doen ‘n wonderlike werk, vir weerlose kinders. Ek bid God se seen oor julle!

Judge Dredd ·

Kan ‘n persoon 2 keer vir dieselfde voorval gestraf word?

E.K. die eerste ·

So daar was dus geen mishandeling soos hul ook aangevoer het nie. Die kinders wou ook terug dus WAS daar nie sprake daarvan. Hierdie skrei ten hemele. Kinders wat alreeds so moeilike lewe het en nou in veiligheid geplaas is moes al hierdie trauma belewe. En vir WAT? Skande man.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.