Kinderhuis-drama: Steeds geen spesifieke bewerings nie

Foto: Newcastle Advertiser

Nog geen spesifieke bewerings is aan die KwaZulu-Natalse Christelike maatskaplike dienste (CSS) bekend gemaak ná kinders uit verskeie kinderhuise verwyder is nie.

Maroela Media het vroeër berig die departement van maatskaplike ontwikkeling het 200 kinders op 15 en 16 Februarie 2019 uit Môrester Ladysmith, Môrester Newcastle en Huis Meah verwyder, na bewering nadat klagtes van fisieke, verbale en emosionele mishandeling, asook rassisme by een van die kinderhuise, onder die departement se aandag gekom het. Die kinders is egter intussen danksy ʼn hofbevel aan die kinderhuise terugbesorg.

Die hof het beslis die departement moet ondersoek instel oor die anonieme bewerings wat die premier van KwaZulu-Natal ontvang het. Die ondersoek moet op só manier gedoen word, sodat die kinders nie verder getraumatiseer word nie.

Gerhard Botha, uitvoerende hoof van CSS, voer aan dit is duidelik dat die departement nie sal huiwer om die kinders verder te traumatiseer nie. “Stappe word ook gedoen wat duidelik nie in belang van die kinders is nie. Dit is duidelik ʼn onregverdige en verwoestende ondersoek met ʼn agenda daar agter wat ons nie bepaal nie.”

Botha het gesê nog geen spesifieke bewerings is aan die CSS bekend gemaak nie. “Dit is nog steeds baie vaag en algemeen en ons kan nie die wanneer, waar en wie bepaal na wie die bewerings verwys nie. As die bewerings waar is, waarom wou die kinders so graag terugkeer en het hulle met soveel opwinding deelgeneem aan die verwelkomingspartytjies?”

Volgens hom lyk dit al hoe meer soos ʼn algemene oudit van die algehele funksionering van die kind- en jeugsorgsentrums en nie soos ʼn geteikende ondersoek oor spesifieke bewerings nie. “Dit lyk of hulle nie bewyse kan kry van die sogenaamde aanvanklike bewerings nie en is nou vasbeslote om in die algemeen iets fout te vind. Al die irrelevante lêers en dokumente wat die departement versoek het, is ʼn bewys hiervan.” Hy het gesê van dié lêers is in só gehawende toestand terugbesorg dat hulle die hele liasseringstelsel moes oordoen.

“Hulle het ook onderhoude met al die kinders en al die personeellede van die sentrums versoek en versoek dat alle kinders medies ondersoek moet word. Al die persone wat kinders in die sentrums geplaas het, is ook gekontak om te hoor waarom hulle die kinders in die sentrums geplaas het en waarom hulle nie kan huis toe gaan nie.”

Botha sê die departement het sonder toestemming van die CSS as voog onderhoude met die kinders gevoer by hul skole en skoolbedrywighede ontwrig. “Die hofbevel het versoek dat die onderhoude by die sentrums moet plaasvind. Sommige kinders het huis toe gekom en aangemeld wat gebeur het en gesê beamptes van die departement het hulle gedreig. Ons het daarna die departement in kennis gestel dat geen onderhoude sal plaasvind tensy dit verband hou met die spesifieke bewerings nie, dat een van ons senior personeellede teenwoordig is en dat dit by die sentrums gedoen word nie.”

Botha het gesê die CSS het ook inligting ontvang dat die departement met ʼn proses wil begin om die kinders uit die sentrums te neem en terug te plaas in die huise waaruit hulle verwyder is. “Dit is baie duidelik ʼn oortreding van die proses wat gevolg moet word en baie gevaarlik vir die kinders. Hulle is aanvanklik uit vrees vir hul veiligheid en gesondheid verwyder.”

Botha sê gerugte, waarvan hulle nie die egtheid kan bepaal nie, doen die ronde, waaronder dat twee voormalige personeellede van Morester Ladysmith die bron was van beserings en dat dit gedoen is uit weerwraak. Die tweede gerug is dat die departement sy eie kinder- en jeugsorgsentrums wil uitbrei en hulle benodig finansiering wat die niewinsgewende organisasies tans ontvang.

“Ons bly verbind daartoe om met die departement se ondersoek saam te werk, gegewe dat dit op ʼn redelike en rasionele manier en volgens die hofbevel geskied. Die hof moet op 25 Maart ʼn beslissing lewer. Van ons kant af sal ons seker maak dat die departement nooit weer ons kinders in gevaar stel en hulle verder traumatiseer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Essa ·

Ja Charlie, en dit ten koste van kinders wat ontwrig en ge-traumatiseer word. Daardie kinderhuis is nou hulle veilige hawe; hulle huis; hulle familie. Dit moet prioriteit wees.

Antjie ·

Ek dink dis tyd om dit soos die Esidimeni-saak te behandel, net beter, want daar is stééds skelmstreke van Gauteng wat uitgehaal word. In SA is mense in spesiale sorg nie vir die regering belangrik nie. Kan mens oorsese bevondsing en -hulp dalk probeer?

Gert van Wierdapark ·

Ja nee, die de-paarte-ment van aftakeling het sy “werk” uitstekend gedoen! Viva die regte van kinders!

Sarel ·

Nader Afriforum om behulpsaam te wees en ook hierdie gevalle onder die buiteland se aandag te bring. Hule moet n geheelbeeld van die toestand in SA kry.

E.K. die eerste ·

Sarel ek is geneig om met jou saam te stem. Die buiteland moet weet ons land gaan nie net ten gronde deur sinnelose moorde nie, maar walglikhede soos hierdie, rioolstelsels wat faal omdat eenvoudige onderhoud nie gedoen word, vrot paaie, hoe dit in hospitale daar uitsien, die moorde en messtekery onder skoolkinders ens ens ad nauseum

Santie ·

As ek nou so deur die dag se nuus gelees het, is daar net een stukkie raad wat ek vir julle kan gee: Kry ‘n nuwe parlement!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.