Kinderhuis-inwoners spring in om oues tydens brand te red

Die kinders het blitsig gereageer om inwoners uit die ouetehuis te help. (Foto: Verskaf)

“Hulle was fantasties. Die kinders het ingespring om te help sonder om eers te dink en gehelp waar hulle kon.”

Só het Mia Fuchs, woordvoerder van die Bramley-kinderhuis in Groenkloof in Pretoria, Vrydag gesê nadat kinders van die tehuis ingegryp het om te help nadat ʼn brand Donderdagaand by die Deutsches Senioren Wohnheim – die Duitse ouetehuis – oorkant die pad uitgebreek het.

Fuchs het gesê een van die kinderhuis se personeellede het omstreek 19:00 gesien een van die woonstelle in die ouetehuis is aan die brand.

Inwoners sit buite die gebou op stoele wat kinders van die Bramley-kinderhuis vir hulle uitgepak het. (Foto: Verskaf)

“Al die kinders het uitgehardloop en besef dat die bejaardes, wat blinde en dowe inwoners insluit, moontlik reeds slaap en heeltemal onbewus van die brand sou wees.

“Hulle het om die gebou begin hardloop en skree en alarm gemaak om die mense wakker te maak sodat hulle die gebou kon ontruim. Drie Bramley-seuns het inderhaas na die Life Groenkloof-hospitaal gehardloop om die brandweer te bel, omdat die telefoonlyne weens beurtkrag in daardie stadium nie gewerk het nie,” het Fuchs gesê.

“Intussen het die ouer kinders dadelik stoele begin uitdra waarop die bejaardes kon sit wanneer hulle uit die gebou kom. Talle van die inwoners is verswak of siek en sommige van die blinde inwoners was heeltemal verward. Die dogters het vir hulle suikerwater gebring.”

Van die seuns wat ingegryp het om te help. (Foto: Verskaf)

Fuchs het gesê ʼn 17-jarige seun van die kinderhuis het in die gebou ingehardloop en van die bejaarde inwoners by die trappe afgedra en uit die gebou gehelp het.

“Hy het etlike kere die trappe op- en afgehardloop en die mense te hulp gesnel. Dit was werklik ʼn baie dapper daad.”

Die brandweer was ʼn halfuur later op die toneel en het die brand, wat op die vyfde verdieping uitgebreek het, geblus. Die oorsaak van die brand word ondersoek.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê niemand is in die brand beseer nie.

“Dit was ʼn baie traumatiese voorval vir almal, maar die kinders is sommer opgeruimd nadat hulle kon help. Hulle het werklik ʼn moontlike tragedie help voorkom. Dit is wonderlik dat buurmanne mekaar so kan uithelp en na mekaar omsien,” het Fuchs gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Roebs

So trots op die klomp

Maryna

Wat ‘n mooi storie. Trane sit vlak…

Grys Uil

Waarom is dit nie die hoofnuusberig nie? Ons land kan doen met meer sulke nuusstories om almal bietjie hoop te gee tussen al die korrupsie en magsvergrype deur.

Lorayne

Wat ‘n onselfsugtige helde daad! Ek hoop Bramley Kinderhuis is NET so trots op hierdie heros soos die res van ons! Seeninge vir julle. . .

Moedeloos

Mooi so jul vra nie vrae nie jul doen net. Baie goeie karakter eienskappe.