Kinderhuis parlement toe oor geweld teen kinders

Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom (AKK Nylstroom) het Desember ʼn protesaksie by die Uniegebou gehou waar ʼn petisie aan pres. Cyril Ramaphosa se kantoor oorhandig is. (Foto: Verskaf)

Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom (AKK Nylstroom) in Modimolle, Limpopo, beplan om die parlement met ʼn petisie van 100 000 handtekeninge te nader in protes teen geslagsgeweld – spesifiek teen kinders.

Die kinderhuis wil met hierdie petisie lede van die publiek en die regering bewus maak van misdade teen kinders en hoe die stelsel kinders tans benadeel.

Marlene de Villiers, bemarker by die kinderhuis, sê die onlangse moord op Chantelle Ash en haar babadogtertjie, Tasneem, het die kinderhuis geruk. Maroela Media het vroeër berig Chantelle en Tasneem se lyke is op 14 Januarie in ʼn kamer van ʼn lodge in Limpopo aangetref. Volgens die polisie was hul hande agter hul rûe vasgebind en aanduidings is dat hulle verwurg is.

“Suid-Afrika het ʼn hoë moordsyfer onder kinders, met bykans drie kinders wat daagliks vermoor word. Geweld teen kinders is ʼn ernstige pandemie wat dringend aandag moet kry,” sê De Villiers.

Die kinderhuis het in Desember ʼn protesoptrede by die Uniegebou gehou, waar ʼn petisie met meer as 6 000 handtekeninge saam met ʼn memorandum aan pres. Cyril Ramaphosa se kantoor oorhandig is. Dié petisie het ook briefies en prentjies van kinders ingesluit wat wys hoe hulle voel die regering eintlik na kinders behoort om te sien.

Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, moes al op 18 Januarie terugvoer op die memorandum gee, maar het tot dusver nog niks van haar laat hoor nie.

Die kinderhuis gaan dus voort met die petisie en gaan nou ook by die parlement en parlementslede se deure aanklop.

De Villiers sê Suid-Afrika het uitstekende wette en ʼn nasionale aksieplan om geweld teen kinders te bekamp, maar wette en beleidstellings op sigself is nie genoeg nie.

“Sonder afdwinging is dit betekenisloos en dit is juis hier waar die regering ʼn aktiewe rol kan speel.

“Dit is vir ons, wat met die trauma van die kinders gekonfronteer word, ʼn baie ernstige saak. Ons kan dit nie net laat vaar nie.”

Gerda van der Merwe, hoof van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom, sê die kinderhuis het ʼn verantwoordelikheid om namens die kinders op te tree deur die regering te vra om sekere probleemkwessies te hanteer.

“As ons weet dat daar probleme is met die aanmelding van ʼn misdaad teen ʼn kind, die hantering van bewyse, die ondersoek daarvan en hoe sake voor ʼn hof aangebied word, dan moet volwassenes standpunt daarteen inneem,” sê Van der Merwe.

As jy AKK Nylstroom met die veldtog wil ondersteun, kan jy jou naam en van SMS na 39 236 (R15, bepalings en voorwaardes geld) om ook die petisie te onderteken wat later vanjaar na die parlement geneem sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.