Kinderhuis sal Staatsrede fyn dophou

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom kyk spesifiek na die Staatsrede vir politieke leierskap wat aan die leemtes in wetstoepassing teen geslagsgeweld, spesifiek teen kinders, aandag sal gee. Die Kinderhuis is bekommerd oor die huidige vlakke van geweld teenoor kinders en die lang en uitgerekte strafregproses.

Marlene de Villiers, woordvoerder van die Kinderhuis, het gesê ʼn memorandum en verslag oor die hoë vlakke van geweld en ander misdade teenoor kinders is onlangs aan die presidensie oorhandig. Besonderhede word gegee van hoe ʼn kind soms verder deur sommige staatsamptenare en die huidige stand van die strafregstelsel mishandel en getraumatiseer word. “Erkenning van ontvangs van die memorandum met die belofte dat terugvoer in Januarie 2021 gegee word, is ontvang. Nog geen kommunikasie is egter vanaf president Cyril Ramaphosa se kantoor of die departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang nie,” het sy bygevoeg.

Volgens haar is daar staatsamptenare, SAPD-lede en amptenare van die gereg wat baie hard werk. Terselfdertyd is daar baie van hulle wat nie kundig is of met empatie met kinders kan werk nie.

De Villiers meen dat geweld teen kinders as ʼn noodtoestand geag moet word. “Dit vereis ʼn baie hoër prioriteit as wat tans daaraan gegee word.”

Die Kinderhuis hoop dat president Ramaphosa die volgende versoeke in die staatsrede sal insluit:

  • ʼn meer geïntegreerde benadering. Owerhede moet besef dat die geweld en die impak daarvan verder strek as die volwassene wat die klag indien;
  • spesiale opleiding aan die polisie, distriksgeneeshere, howe en staatsaanklaers;
  • kindervriendelike konsultasie en aanklagkantore moet vir slagoffers van gesinsgeweld en seksuele misdrywe beskikbaar wees om sake aan te meld. Behoorlike ondersteuning moet beskikbaar wees wanneer die sake voor die hof kom;
  • meer geïntegreerde beleide en praktyke wat die probleem holisties hanteer;
  • mediese beamptes moet opgelei word in forensiese ondersoeke;
  • meer distriksgeneeshere in die informele nedersettings;
  • bestaande en funksionerende eenhede is in samewerking met verskeie departemente gestig. Dit is egter nog ontoereikend. Polisiebeamptes het nie tyd om ure in die hospitaal deur te bring nie;
  • omsigtigheid en sensitiwiteit met die hantering van slagoffers van geweld. Verdere traumatisering tydens die aanmeldingsproses by die polisie, die vervolgingsproses deur die aanklaers, of die hofproses deur regsverteenwoordigers mag nie plaasvind nie;
  • sake moet vinniger aandag kry. Dit neem te lank om sake af te handel; en
  • meer gesentraliseerde en gespesialiseerde sentra vir verslagdoening, mediese ondersoeke en ondersteuning.

Die doel van die Wet op Gesinsgeweld is om aan slagoffers die maksimum beskerming teen mishandeling waarvoor die reg voorsiening kan maak, te bied. Verder bevat die wet ook maatreëls wat daarop gemik is om te verseker dat die relevante staatsorgane volle uitvoering aan die bepalings van hierdie Wet sal gee. In die wet word dit duidelik gestel dat die staat tot die bestryding van gesinsgeweld verbind is.

“Vir ons wat met die trauma van die kinders gekonfronteer word, is dit ʼn baie ernstige saak. Ons kan dit nie net laat vaar nie,” sê De Villiers. Sy meen dat Suid-Afrika uitstekende wette en ʼn nasionale aksieplan het om geweld teen kinders te bekamp maar die owerhede moet egter hulle kant bring.

Die Kinderhuis versoek dat groter bewustheid oor hierdie kwessie gekweek word en dat lede van die publiek die petisie sal onderteken. SMS jou NAAM en VAN na 39236 (R15, bepalings en voorwaardes geld) om die petisie te ondersteun wat later vanjaar na die parlement geneem gaan word, het De Villiers bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ES ·

Die ongelukkige ding is dat die strafregproses so lank vat omdat daar telkemale baie swak bewyse deur die polisie bymekaargemaak word. Staatsaanklaers moet kriminele sake bo redelike twyfel kan bewys.

Baie min mense verstaan hoe baie werk gaan in ‘n hofsaak in en watter prosedures als gevolg moet word. Die regter kan nie net besluite maak en die persoon straf nie, hy moet ook al die staatsaanklaer se bewyse nagaan, en self die wette navors voordat hy/sy ‘n besluit kan maak. In sy/haar vonnisoplegging moet die regter ook sy/haar eie bewysstukke lewer asook watter wette nagevors is en dit moet in sy/haar vonnisoplegging gelees en opgeteken word.

Dit is ongelukkig ‘n langsame proses want dit moet deeglik gedoen word. Die prosedure vir kriminele sake en die prosedure vir aanvaarbare bewyse en getuienes word ook deur spesifieke wetgewing beheer .

Ongelukkig is dit nie so maklik soos vind die persoon skuldig en stuur hom tronk toe nie.

Samuel ·

Ons kan net hoop vir die beste. Dit is waar dat hofsake lank kan duur as die bewyse ens nie alles in plek is. Is die regering werklik ernstig oor geslagsgeweld en ander geweldsmisdade?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.